Ocearch mag weer haai-navorsing doen

Filmmaker Chris Fischer en ander wetenskaplikes het weer toestemming verkry om haai-navorsing te doen, het die departement van omgewingsake Vrydag gesê.

Woordvoerder Zolie Ngqayi het gesê die permitte is uitgereik om voorwaarde dat die Ocearch-vaartuig homself tot Gansbaai en Valsbaai beperk en op die meeste ses haaie per gebied merk. Ngqayi sê die permitte is tot einde Mei, of wanneer 12 haaie gemerk is, geldig. Die departement het Ocearch se permitte kanselleer nadat David Lilienfeld in April in Kogelbaai in ʼn haai-aanval gesterf het. Lilienfeld, ʼn spanlid van die Suid-Afrikaanse lyfbordspan, was omstreeks 12:00 saam met sy broer by gewilde branderplankrygebied Caves toe die witdoodshaai hom aangeval het. Inwoners het Fischer se aktiwiteite vir dié aanval blameer, aangesien die navorsing moontlik haaie na die baai gelok het. Omgewingsake het die aanval ondersoek en bevind dat daar geen verbintenis bestaan nie. “Verdere inligting oor die daaropvolgende 10 dae insluitend die beweging van die haaie wat reeds gemerk is, het tot dié besluit gelei,” het Ngqayi gesê. “ʼn Sterk saak is gestel rakende die voordele van die werk – nie net om haai beter te verstaan en hulle sodoende beter te bewaar nie, maar ook in die toekoms om die veiligheid van die publiek te verseker deur intydse raad oor risiko-gebiede vir moontlike haai-aanvalle.” Die Ocearch-vaartuig is Vrydag weer in Gansbaai se water toegelaat en sal op 14 Mei na Valsbaai beweeg.

Chris Fischer maak dokumentêre films vir National Geographic. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.