Oekraïne: Obama en Merkel werk aan “ontsnaproete” vir Poetin

Wladimir Poetin president van Rusland. Foto: Rusland-regeringskantoor

Wladimir Poetin president van Rusland. Foto: Rusland-regeringskantoor

Pres. Barack Obama van die VSA en kanselier Angela Merkel van Duitsland het ‘n uurlange telefoniese gesprek gevoer om aan ‘n uitweg (off ramp) vir pres. Wladimir Poetin van Rusland te werk. Poetin het hom met sy optrede en uitsprake oor die Oekraïne, en veral die Krim, politiek in ‘n hoek vasgeverf.

Tot dusver is Poetin se optrede en uitsprake baie teenstrydig. Aan die een kant maak hy gerusstellende geluide soos om te sê hy voorsien nie dat die situasie tot militêre aksie sal lei nie, net om dan weer na sy ou loopgrawe terug te val waar hy die regering in die Oekraïne as onwettig beskryf, en onmoontlike eise stel om die situasie te ontlont.

Poetin se beweegruimte word erg beperk deur die impak wat die krisis op sy eie land se ekonomie uitoefen. Die roebel het tot sy laagste vlak ooit gedaal, en die Russiese aandelebeurs het ‘n knou weg. Sewe van die G8-lande het hulle van ‘n voorbereidingsgesprek onttrek wat oor die beplande G8-beraad in Junie in Sotsji gehou sou word. Obama het aangedui dat die enigste moontlikheid dat die beraad wel sal plaasvind, is dat Rusland sy troepe na hul basisse laat terugkeer.

Intussen moet die Paralimpiese Winterspele Vrydag in Sotsji begin, en verskeie regeringsleiers, ook van dié wat na die krisis begin het steeds aangedui het dat hulle “nog geen rede sien om nie te gaan nie,” het intussen hul reisplanne na Sotsji afgestel.

Die Europese Unie en die VSA dreig ook met sanksies teen Rusland, waarop Poetin antwoord  dat sulke sanksies ook Europa sal seermaak.

Obama en Merkel probeer die wind uit een van Poetin se vernaamste seile te haal. Poetin beweer onder meer sy ingryping in die Oekraïne is om etniese Russe in die land te beskerm teen menseregteskendings. Merkel en Obama stel voor dat menseregtewaarnemers van die VN na die Oekraïne gestuur word om seker te maak daar word nie teen etniese Russe gediskrimineer nie.

Die twee leiers wil ook hê dat Rusland en die tussentydse regering in die Oekraïne regstreeks met mekaar dialoog voer. Merkel het Duitsland as bemiddelaar vir so ‘n proses aangebied.

Intussen het Wall Street positief reageer op Poetin se stelling dat hy “geen nodigheid vir militêre optrede” sien nie. Politieke waarnemers is egter nie oortuig dat dit ‘n blywende nuwe koers van Poetin inlui nie, veral omdat die Russiese leier onder enorme binnelandse druk is om te verseker dat die Oekraïne binne die Russiese invloedsfeer bly. Die volgende uitspraak kan weer op ontoeskietlikheid dui, wat veroorsaak dat die konflikpotensiaal op ‘n mespunt gebalanseer bly.

Bronne: Trouw, De Standaard, Christian Science Monitor

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vannermerwe ·

Vladimir Vladimirovich Putin

Net ‘n vraag- Hoekom verander julle sy naam na Wladimir Poetin?

As Piet nou in Amerika aankom is hy skielik Pete? Of is Johan skielik John?

Dan moet Coke mos nou Kouk word en Nike Naaikie?

Hoor graag

Groetnis

Dewald ·

Hierdie artikel is van ‘n pro-VSA en pro-EU invalshoek geskryf en is eintlik maar propoganda en nie juis ‘n nuus-artikel nie.

Rusland het ‘n verdrag gesluit met die Oekraïne wat hulle toelaat om 25 000 troepe in die Krim te hê – daar is nou omtrent 16 000. Soek dit op Wikipedia onder “2010 Kharkiv Pact” Die “ingryping in die Oekraïne” is ‘n propogandistiese versinsel – Maroela Media doen hulle-self nie juis ‘n guns deur dit hier te herhaal nie.

Die VSA het wette (ja – hulle eie) wat hulle verbied om finansiële hulp te verleen aan regerings wat ondemokraties en met geweld aan bewind gekom het – hulle oortree op die oomblik hulle eie wette.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.