Oekraïne-president word vermis

Onafhanklikheidsplein in Oekraïne Foto: news.yahoo.com

Onafhanklikheidsplein in Oekraïne Foto: news.yahoo.com

Die video volg onderaan die berig. Daar het Sondag onsekerheid geheers oor waar president Viktor Yanukovych van Oekraïne homself bevind nadat hy die hoofstad Kiev verlaat het. Sy aartsvyand, Yulia Tymoshenko, is intussen uit die gevangenis vrygelaat en het na Kiev teruggekeer om ʼn massiewe skare van bewonderaars toe te spreek.

Volgens die staat se grenspos het Yanokovych se vliegtuig nie Saterdagaand toestemming ontvang om by Donetsk, ʼn stad in die ooste van Oekraïne en die president se ondersteuningsbasis, op te styg nie. Die president se woordvoerder het Sondag gesê hy is nie seker waar Yanukovych is nie.

Nog meer betogers het Sondagoggend in Kiev opgedaag. Talle persone is reeds in die betogings dood en Amerika, Europa en Rusland is veral bekommerd oor die situasie.

Oekraïne is verdeel tussen die oostelike streke wat hoofsaaklik pro-Russies is en die westelike dele wat Yanukovych verafsku en groter verbintenis aan die Europese Unie nastreef.

Daar was ʼn reeks betogings in November nadat Yanukovych ʼn ooreenkoms met die EU laat vaar het, maar dié betogings het vinnig uitgebrei om ook die griewe oor korrupsie en menseregtevergrype in te sluit. Daar is ook versoek dat Yanukovych moet bedank.

“Ons moet diegene, met bloed op hul hande, vang en straf,” het Artyom Zhilyansky, ʼn 45-jarige ingenieur Sondag op Onafhanklikheidsplein gesê. Hy het verwys na die betogers wat gesterf het toe die polisie ingegryp het. Zhilyansky en ander betogers versoek dat hoofde van die polisie aanspreeklik gehou moet word en Yanukovych verhoor moet word.

Die politieke krisis in die land, met sy bevolking van 46 miljoen mense, het die afgelope week teen ʼn rasse skrede verander. Daar was aanvanklik tekens dat die spanning gaan verlig, gevolg deur gruwelike geweld en toe ʼn ooreenkoms wat onder druk van die Weste onderteken is, wat die konflik sou oplos, maar wat die eenheid in die land verbrokkel het.

Die nuutgevormde parlement het teen Yanukovych gedraai en hom uitgestem. Hulle het die verkiesingsdatum vir 25 Mei bepaal, maar Yanukovych het Saterdagaand in ʼn televisie-uitsending gesê hy ag die parlement as onwettig en sal nie die parlement se besluite respekteer nie.

Tymoshenko het ongeveer 50 000 mense op Kiev se Onafhanklikheidsplein toegespreek. Sy is in ʼn rolstoel weens ʼn rugprobleem wat tydens haar tronkstraf vererger het. Sy het die betogers, wat in die geweld omgekom het, geprys. “Julle is helde, julle is die beste ding in Oekraïne!” het sy oor die slagoffers gesê.

Die ministerie van gesondheid het gesê meer as 82 mense het reeds in botsings met die polisie gesterf. Volgens die betogers is dit meer as 100 mense.

“Ons het Yulia en haar passie so baie gemis,” het Yuliya Sulchanik, een van die betogers, gesê.

Tymoshenko het, minute ná haar vrylating, aangedui dat sy van plan is om haarself as presidentskandidaat beskikbaar te stel.

Dit wil voorkom of Yanukovych se outoriteit afneem en die vermoede bestaan dat hy uit die land wil vlug. Sy vliegtuig het Saterdagaand glo nie die nodige dokumentasie gehad nie, en hy het gevolglik nie toestemming ontvang om op te styg nie. Oleh Slobodyan van die grenspos het gesê die president is met ʼn motor van die lughawe weggeneem. Hy sê daar is nie enige aanduiding dat Yanukovych die land verlaat het nie, en dit is ook nie duidelik waarheen die vliegtuig op pad was nie.

Catherine Ashton, hoof van buitelandse sake van die EU, het Tymoshenko se vrylating verwelkom.

Rusland het Saterdag hom sterk uitgespreek teen die vredesooreenkoms en gesê die opposisie voldoen nie aan die ooreenkoms, dat betogers hul wapens sal neerlê en hul tentkampe sal verlaat nie.

Die ergste geweld het die afgelope week in Oekraïne afgespeel sedert die Sowjet-Unie meer as ʼn kwarteeu gelede ontbind is.

Betogers het Saterdag bosse blomme op die afgestorwenes se kiste neergelê. -SAPA

Lees ook:
Video: Oekraïne: Slag van die onafhanklikheidsplein
Minstens een dood in Oekraïne-betoging
Video: Amerikaanse onderminister se “F&* die EU” ontstig

Een van die betogers lewer in die volgende video ‘n pleidooi dat die wêreld hul aandag moet fokus op wat in Oekraïne gebeur. Die video is reeds meer as 6.8 miljoen keer gekyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.