Oekraïne se rewolusie en ooreenkomste met SA

Viktor Janoekovitsj

Viktor Janoekovitsj

Die rewolusie in die Oekraïne wat tot die verwydering van die pro-Russiese pres. Viktor Janoekovitsj uitgeloop het, het wel meer raakvlakke met die opstande in Thailand (waar die premier ook uit die hoofstad gevlug het) en Venezuela, maar daar is wel ooreenkomste met die situasie in Suid-Afrika wat nie geïgnoreer kan word nie.

In Suid-Afrika is die president ook onder druk, en vir verbasend baie dieselfde redes waarom Janoekovitsj so teenspoed gekry het. Benewens sy pro-Russiese gesindheid, is hy ook die verpersoonliking van korrupsie by baie.

Die oorgangsregering het byna dadelik besluit dat beslag gelê gaan word op Janoekovitsj se eie “Nkandla – ‘n luukse landgoed net buite Kiëf.

Die opstand het aanvanklik betreklik beskeie begin, en in baie opsigte ooreenkomste getoon met die diensleweringsbetogings hier.

Die Oekraïne is die grootste land in Europa wat net in Europa geleë is. Die Russiese Federasie is groter, maar die grootste deel is in Asië. Dit het, soos Suid-Afrika, sowat 50 miljoen mense, en die landboutoestande maak van die land ‘n graan-kosmandjie.

Hoewel die land heterogeen is, is heelwat meer as die helfte van die bevolking etniese Oekraïners. Die tweede grootste groep, net minder as twintig persent, is Russe – ‘n oorblyfsel van die tyd toe die Oekraïne deel van die USSR was. Ander etniese groepe is veel minder. Die taal is baie nou verwant aan Russies – ongeveer net so naby as Afrikaans aan Nederlands.

Weens onder meer ‘n lang geskiedenis van korrupsie, is die Oekraïne finansieel in tamatiestraat. Die land het ‘n keuse gehad om nader aan die Europese Unie te beweeg en vanuit daardie oord hulp te kry, of nader aan Rusland en ‘n billike lening te kry. Rusland hou ook met gasvoorsiening en gaspypleidings na Wes-Europa oor die Oekraïne die mes teen die keel.

Janoekovitsj, wat uit die ooste van die land kom waar die pro-Russiese sentimente sterker is, het op ‘n pro-Russiese koers besluit. Die bevolking het klaarblyklik nie daarmee akkoord gegaan nie, en die opstande het begin.

Dit het verdiep toe die veiligheidsmagte gewelddadig opgetree het, en talle betogers die lewe gelaat het.

Wes-Europa het intensief by vredesonderhandelinge betrokke geraak, iets wat Rusland nie tot dieselfde mate kon doen nie weens die Russe se aandag by die Olimpiese Winterspele wat in Sotsji in die sensitiewe Russiese Kaukasusgebied plaasgevind het. Die oorgangspresident, Oleksandr Turchynov, het dadelik sy voorkeur aan nouer betrekkinge met die Weste beklemtoon. Die oorgangsregering het dadelik na Janoekowitsj voet in die wind geslaan het, beduidende aanbiedinge van hulp van Westerse lande gekry, terwyl die IMF klaarblyklik ook net wag vir ‘n aansoek.

Die oorgangsregering het ook die voormalige president, Julia Tymosjenko, uit die gevangenis vrygelaat. Hoewel sy aan kriminele oortreding skuldig bevind is, word dit wyd as ‘n politiek-gelaaide vervolging beskou, en het sy in wese as held uit die stryd getree. Boonop is sy nou in ‘n rolstoel na ‘n rugprobleem vererger het terwyl sy in die gevangenis was.

Boonop is die boksheld, Vitali Klitsjko, nou ook van die belangrikste opposisieleiers in die Oekraïne.

Soos in Suid-Afrika is die betogers nie ‘n ideologies homogene groep nie.

Van die meer radikale elemente kan die terugkeer na vrede bykans onmoontlik maak.

Die oë sal nou ook op Janoekowitsj en Rusland gevestig wees. Janoekowitsj is skynbaar besig om die Russiese grens te probeer bereik, en het sy eie ondernemings oor die vredesooreenkoms die rug toegekeer, en die parlement van ‘n staatsgreep beskuldig. Rusland kan ook nou meer aandag aan die saak skenk na die verrigtinge in Sotsji ten einde geloop het. Of Rusland, wat sy ambassadeur uit Kiëf teruggeroep het,  so ver sal gaan om Janoekowitsj deur militêre ingryping of sanksies in ere te herstel, sal binnekort duidelik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.