Olifant van kant gemaak ná dit motor in Krugerpark aanval

'n Olifant in die Nasionale Krugerwildtuin. Foto: krugerpark.co.za
‘n Olifant in die Nasionale Krugerwildtuin. Foto: krugerpark.co.za

ʼn Olifantbul is in die Nasionale Krugerwildtuin van kant gemaak nadat dit Maandag ʼn motor aangeval het.

Die aanval het by ʼn watergat naby Pretoriuskop in die suide van die park plaasgevind, het Ike Phaahla, ʼn woordvoerder van Sanparke, gesê. Volgens die Suid-Afrikaanse paartjie aan wie die blou Volkswagen behoort het, het hulle die olifant gevolg om dit met hul videokamera af te neem. Die olifant het skielik omgedraai en hul motor sowat 400m die bosse ingestoot en daarop getrap. Volgens ooggetuies was die dier uiters aggressief, en van hulle het bewaarders van die park gekontak om te kom help.

ʼn Dokter van die park het die vrou aangeraai om na die Medi-Clinic in Nelspruit te gaan vir waarneming. Die man het nie seergekry nie, maar was in skok.

Die paartjie se name word weerhou tot hul families in kennis gestel is van die voorval.

Volgens Phaahla moes die olifant van kant gemaak word omdat dit voorheen sulke aggressiewe gedrag openbaar het, wat ʼn gevaar vir toeriste begin inhou. “Die olifant is in ʼn fase waartydens hul testosteroonvlakke baie hoog styg, omdat hulle wil paar,” het hy verduidelik. In dié fase kan olifante aggressief optree, selfs wanneer hulle nie bedreig word nie.

“Dié styging in testosteroon kom voor in die paarseisoen wanneer jong alleenloper-bulle by ʼn gevestigde trop probeer aansluit om met ʼn olifantkoei te paar,” het Bryan Jones, ʼn natuurbewaarder van die Moholoholo Rehabilitasiesentrum, verduidelik. “Hulle word egter dikwels deur die dominante bul van die trop weggedryf, en dan gebeur dit soms dat hulle hul frustrasies op iets anders – soms mense – uithaal.”

Phaahla raai besoekers aan die park aan om op ʼn veilige afstand van die diere te bly. “Ons moet hul ruimte respekteer. Hulle is wilde diere, wat natuurlik optree in hul natuurlike omgewing. Hulle gedrag kan baie onvoorspelbaar wees as hulle bedreig voel, en hulle sal maklik aanval om hulself te verdedig.”

Volgens Phaahla was daar, buiten spoedoortredings en toeriste wat hul motors verlaat, nog nie ander voorvalle in die park tydens die vakansieseisoen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pieter Potgieter ·

Dit is so jammer dat die Olifant van kant gemaak is. Ek kom nou net terug van KNP en het by verskuie kere waargeneem dat mense die groot Kollose ireteer om amper onder hul in te ry om te wys hul nie bang is nie. Mense wat geen respek vir diere het nie hoort nie daar nie. Dit is sy gebied moenie hom ireteer nie , en as jy nie luister sal jy getrap word.

Justi ·

Ek wonder wanneer mense eendag gaan leer……….n olifant is n wilde dier en sal homself natuurlik self probeer verdedig teen die wat hom iriteer. So geld dit vir alle wild.

Nou moet die olifant dit ontgeld. Dis so bitter onregverdig.

Ria Maritz ·

Justi, ek maak van die geleentheid gebruik om jou ook ‘n baie voorspoedige nuwe jaar toe te wens – dankie vir jou vriendskap oor die afgelope paar maande.

Groete, Trippie

Justi ·

Baie dankie Trippie. Mag jy en jou familie n voorspoedige, vreudegdevolle en vreedsame nuwe jaar he. Graag wil ek jou ook bedank vir jou vriendskap. Jy is n pragtige mensie.

Justi ·

Verskoon asb die spelfout, moes vreugdevolle gelees het. Grote Justi.

Ivan ·

Olifante het nie n spesifieke paar tyd nie, alhoewel paring meer gereeld plaas vind in die reen seisoen van waar die olifante is.

Chivago ·

Dit maak my woedend! Onskuldige wilde diere word van kant gemaak omdat hulle doen wat in hulle aard is, alles vir geld.

Marlene Minderon ·

Graag wil ek net se ek dink die mense is die oortreeders. Die diere was eerste hier. Ons was n jaar terug in die wildtuin toe twee Chinese toeriste aangeval is en ons het ook al gesien wat mense doen veral oorsese toeriste, hulle dink die wilde diere is n speelding. Ek het al gehoor en gesien hoe hulle hulle motors ref en ook voorentoe ry en dan terug en dan die heeltyd die motor ref. Dis vir moielikheid soek. Los die diere uit. Ons Suid Afrikaners ken ons diere maar die oorsee se toeriste dink dis mak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.