Olifant vertrap veteraan-bewaarder

John Bradford

John Bradford

Twee video’s volg onderaan die berig. ‘n Ervare bewaarder by ‘n dieretuin in Missouri, Amerika is Vrydagoggend dood toe ‘n olifant hom vertrap het.

“John Bradford (62) van Dickerson Park-dieretuin is dood toe hy ‘n olifant in ‘n gangetjie gelei het wat die skuur aan die werf verbind,” het Cora Scott, woordvoerder vir die stad Springfield, gesê.

Scott het in ‘n persverklaring gesê die olifant, ‘n 41-jarige koei genaamd Patience, wat sedert 1990 by die dieretuin is, het in die 4m-lange gang gehuiwer. Toe Bradford na haar rigting strek met ‘n gidsstokkie in ‘n poging om haar vorentoe aan te por, het sy skielik vorentoe beweeg. Bradford is teen die gang vasgedruk en op die vloer vertrap.

Ander bewaarders in die dieretuin het Patience dadelik van Bradford af weggetrek, maar hy is op slag dood. Geen ander dieretuinwerknemers is beseer nie.

Bradford het reeds 30 jaar lank by die dieretuin gewerk en was al die afgelope 25 jaar in beheer van die olifante. “Dit is ‘n vreeslike hartseer dag vir kollegas by die dieretuin en in die stad,” het Scott gesê.

Paul Price, een van Bradford se jarelange vriende en kollega by die dieretuin, het aan die Springfield News-Leader gesê olifante was Bradford se passie. “Hy was altyd bewus van die gevare en was instrumenteel daarin om ‘n olifantbeheerprogram op ‘n nasionale en internasionale vlak op die been te bring,” het Price gesê.

Die dieretuin het twee koeie en twee olifantbulle. Scott het in ‘n persverklaring gesê dat bewaarders ‘n ogie moes hou oor die koeie sedert die afsterwe van die matriarg-olifant, Connie, vroeër die maand. Volgens werknemers by die dieretuin was Patience sedertdien huiwerig.

Die dieretuin het bevestig dat Patience nie uitgesit sal word nie, en dat geen dissiplinêre stappe teen haar gedoen sal word nie.

Die dieretuin se aktiwiteit het Vrydag normaal voortgegaan, alhoewel die olifante nie beskikbaar was nie. Die departement van landbou en die Vereniging van Dieretuine en Akwariums is in kennis gestel van Bradford se afsterwe.

‘n Video van ‘n olifant by Dickerson Park-dieretuin volg onderaan die nuusvideo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jasper ·

Help my reg. n Bewaarder bewaar diere in hul natuur, nie in hokke en kampe nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.