Olifant-video is eg, toeriste kan beboet word

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

SANParke het bevestig dat ʼn video van ʼn olifantbul wat ʼn voertuig aanval, die ware beeldmateriaal is van ʼn voorval waartydens twee toeriste onlangs in die Krugerwildtuin beseer is.

Rey Thakuli, ʼn woordvoerder van SANParke, het Woensdag aan Maroela Media gesê die video is ʼn ware weerspieëling van die voorval waarin Sarah Brooks, ʼn toeris van Engeland, en haar friend, Jans de Klerk, aangeval is. Sien die video hier.

Thakuli het gesê hulle het die video Dinsdag bekom en die beeldmateriaal word noukeurig ontleed. “Indien ons agterkom die toeriste het die reëls oortree of die dier getart, kan hulle beboet of van die park verban word,” het Thakuli gesê. Hy het gesê die straf sal deur die park se beskermingsdiens bepaal word.

Thakuli het voorts gesê die besluit om die olifantbul van kant te maak is nie ligtelik gedoen nie. “Ons sit nie net diere uit omdat ons gewere het nie. Ons het ná die voorval die olifant van naby af fyn dopgehou. Hy het beserings gehad wat hy voor die aanval gekry het en dit kon tot sy dood lei. Hy was boonop bronstig en is heel waarskynlik beseer tydens ʼn geveg met ʼn ander bul. As olifante bronstig is, en beseer is, sal hulle aggressief optree en mense as maklike teikens sien. Dit het waarskynlik tot die bul se optrede bygedra.”

Brooks is op 6 Januarie uit die Medi-Clinic Nelspruit ontslaan. Sy en De Klerk is glo weer terug in Engeland.

Lees ook:
Olifant-slagoffer ontslaan
Olifant-aanval: Toeris sterk aan; name bekend
Publiek ontstoke oor wildtuin-olifant; slagoffer sterk aan
Olifant van kant gemaak ná dit motor in Krugerpark aanval

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anje ·

Ek hoop ou Jans word goed beboet en van die park verban, dis nou as hy in elk geval kans sien om weer te gaan. Wou waarskynlik af show voor die Engelse meisie, maar toe is dit nie die sirkus nie en toe wys Oom Olifant wat hy daarvan dink.

Henk Venter ·

Alles goed en wel dat die park nou die video materiaal bestudeer. Wat is die kans hulle spandeer soveel tyd aan die onwettige jagters wat ons renosters en olifante so uitroei? Of is julle maar soos die res van die land se wetstoepassers – julle slaan toe op die maklike teikens en daar waar daar werk aan die ondersoek en of voorkoming is, daar laat julle dit aan Gods genade oor?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.