Olifantjagter kry R50 miljoen ná inhegtenisname

Jaco Scott, ʼn professionele jagter, is R50 miljoen deur die Pretoria-hooggeregshof toegestaan nadat hy verkeerdelik in hegtenis geneem is.

The Star het Maandag berig Scott se inhegtenisname het daartoe gelei dat hy nie ‘n geskeduleerde olifantjag met Amerikaanse klante kon uitvoer nie.

Hy het R75 000 in skadevergoeding gekry vir sy aanhouding, en R577 610 wat hy betaal het aan ‘n Amerikaanse maatskappy, Field and Stream, om jagters van Amerika te werf vir jagekspedisies.

Die hof het ook R49,2 miljoen aan sy maatskappy, Scotto, toegestaan vir die verlies van inkomste oor die afgelope 25 jaar nadat Field and Stream besluit het om nie meer van Scott se dienste gebruik te maak nie.

ʼn Groep jagters van Amerika het op 10 Junie 2004 in Suid-Afrika aangekom na ʼn ooreenkoms tussen Scotto en Field and Stream. Scott is egter die dag vantevore in hegtenis geneem op ‘n onverwante klagte van olifantjag op ʼn plaas in Zimbabwe en kon gevolglik nie die ekspedisie uitvoer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.