Olimpiese Spele: Britte waarsku oor moontlike internet-ineenstorting

Britse besighede word gewaarsku dat hulle moontlik tydens die 2012 Olimpiese Spele in Londen ʼn onderbreking in internetdienste, dataplafonne en “onafwendbare” selfoonprobleme te wagte kan wees, het die Spele se organiseerders in ʼn amptelike dokument gesê.

Luidens ʼn dokument getiteld “Berei jou onderneming voor vir die Spele” kan internetverbindings moontlik verlore gaan weens die aantal mense wat tydens spitstye sal aanteken. “Dit is moontlik dat internetdienste tydens die Spele stadiger mag wees of, in ernstige gevalle, dat daar selfs onderbrekings kan wees weens die verhoogde aantal mense wat toegang tot die internet wil bekom,” het die dokument gewaarsku. “Boonop sal internetdiensverskaffers moontlik dataplafonne tydens spitstye instel om die lading te versprei en ʼn eweredige diens aan alle klante te verskaf. Dit is egter nog nie deur die internetdiensverskaffers bevestig nie en ons hoop om nader aan die tyd oor meer inligting te beskik.”

Die regering het Londense maatskappye aangemoedig om hul werknemers tydens die Spele toe te laat om van die huis af te werk of hul skofte te wissel om druk op die vervoernetwerk te verlig. Kundiges het egter gewaarsku dat persone wat van die huis af werk tot onproduktiwiteit kan lei weens die moontlike internetprobleme wat verwag word. Die Spele sal tussen 27 Julie en 12 Augustus plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.