Olimpiese Spele: Oscar maak geskiedenis

Oscar kort nadat hy gekwalifiseer het. Foto: Dylan Martinez / REUTERS

Oscar Pistorius het Saterdag geskiedenis gemaak nadat hy die eerste paralimpiese baanatleet geword het om aan die Olimpiese Spele deel te neem, én boonop vir die semi-finale te kwalifiseer in die 400m naellope.

Pistorius het Saterdag tweede in dié baanitem gekom met ʼn tyd van 45.44s. Hy kwalifiseer outomaties vir die semi-finale wat Sondagaand gaan plaasvind. Dis boonop sy beste tyd vir die seisoen.

Dit volg ná Pistorius dit aanvanklik amper nie die 400m span gemaak het nie.

Tubby Reddy, die uitvoerende hoof van die Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok), het in Julie gesê hoewel Pistorius aanvanklik nie vir die 400m gekwalifiseer het nie, het Saskok besluit om hom vir die item in te sluit omdat hy in elk geval vir die aflosspan gekies is. Saskok het ook dié vergunning vir sekere van die swemmers gemaak wat aanvanklik net aan die aflosse sou deelneem.

Oscar gaan ook later vanjaar Suid-Afrika by die Paralimpiese Spele verteenwoordig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.