Omkoopgeld om hare terug te kry

Van die goedere waarop die polisie beslag gelê het.

ʼn 34-jarige Chinese man is in City Deep in Johannesburg in hegtenis geneem nadat goedere, wat onwettig in die land in gesmokkel is, in sy besit gevind is.

Kapt. Augustinah Selepe, ʼn woordvoerder van die Gautengse polisie, het Donderdag gesê die grenspolisie en die Valke het Maandag met hul ondersoek teen die man begin.

“Nagenoeg R1 miljoen se ‘100%-menshare’ is onder meer in sy besit gevind en die polisie het daarop beslag gelê,” het Selepe gesê.

Die verdagte wou Woensdag glo die polisie omkoop om die hare terug te kry. Hy het by die grenspolisie se kantore in City Deep opgedaag en R7 000 aangebied. “Hy is dadelik in hegtenis geneem nadat hy die omkoopgeld aangebied het.”

Ná sy inhegtenisname is die man se voertuig deursoek waarna die polisie ook beslag gelê het op ʼn skootrekenaar, elektroniese ware, vervalsde visums, vervalsde identiteitsdokumente van Chinese landsburgers, toerusting om dokumente te vervals, ʼn lys van identiteitsdokumente asook kredietkaartnommers en perlemoen.

“By verdere ondersoek het die polisie bevind dat die man moontlik deel kan wees van ʼn sindikaat wat Chinese-landsburgers help om onwettig in die land in te kom. Die polisie verwag om meer mense in dié verband aan te keer,” het Selepe gesê.

Die man word aangekla van korrupsie en die vervaardiging van en handeldryf met vervalsde goedere. Hy moet Vrydag in die Johannesburgse landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

johan storbeck ·

ek het die absolute grootste respek vir geregsdienaars wat nog doen wat gedoen moet word, dankie vir u!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.