Omroeper stel wêreldrekord op

‘n Omroeper van Nepal het die wêreldrekord opgestel vir die langste televisie-gesprekprogram.

Rabi Lamichhane, ‘n 36-jarige wat in Amerika bly, het na Kathmandu teruggekeer om die “Lord Buddha was born in Nepal”-program op te neem. Ná 62 uur en 12 minute op die lug het hy die Guinness-wêreldrekord ingepalm.

“Ons veldtog se doel was om die boodskap aan die wêreld te verkondig dat Buddha in Nepal gebore is,” het Anil Joshi, voorsitter van News24, die televisiestasie wat die program uitgesaai het, aan AFP gesê. Die program het ook toerismebestemmings soos Mount Everest bemark.

Eenhonderd gaste, insluitend voormalige Maoïs rebellieleier Pushpa Kamal Dahal, die Indiese ambassadeur in Nepal en bekende televisiepersoonlikhede het tydens die program by Lamichhane gekuier.

Die vorige rekord is deur Pavlo Kuzheyev en Tetiana Danylenko opgestel ná ‘n 52-uurlange program vir die 20ste herdenking van Oekraïne se onafhanklikheid in 2011.

Volgens Guinness-wêreldrekords se reëls kon Lamichhane elke uur ‘n vyf-minuutlange breuk vat. Organiseerders sê hy het geëet terwyl hy onderhoude met gaste gevoer het, talle energiedrankies gedrink en van die vyfminuut-pouses laat ophoop om ‘n langer breuk te kan neem.

Die program is in Nepalees opgeneem met Engelse byskrifte en is uit die News24-ateljee in Kathmandu regstreeks oor die kanaal en ander vennote se webwerwe uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.