Omstrede dam in Amasone kry groen lig

Foto: ‘n Kunstenaarsvoorstelling van die voltooide dam.

Voortgesette bouwerk aan ‘n reuse dam in ‘n sytak van die Amasonerivier, waarteen aktiviste soos Sigourney Weaver hulle verset het, het nou die groen lig van die Brasiliaanse Hoë Raad gekry.

‘n Laer regter het verlede maand bouwerk aan dié dam gestuit. Die laer regter het onder meer bevind dat die inwoners van die gebied wat geraak word, veral Indiane, nie genoegsaam oor die dam geraadpleeg is nie.

Die Belo Monte-dam sal by voltooiing die derde grootste dam ter wêreld wees en sowat 500 vierkante kilometer van die Amasone onder water plaas. Sowat 16 000 mense sal moet verhuis en altesaam 40 000 se broodwinning word geraak.

Die beraamde koste van die dam is ongeveer $9 miljard, en sal meer as 11 000 megawatt elektrisiteit opwek. Slegs die Drieklowedam in China en die Brasiliaans-Paraguaanse Itaipudam lewer meer krag op. Suid-Afrika se ganse kragopwekkingsvermoë is ongeveer 40 000 megawatt.

Sowat 85% van Brasilië se elektrisiteit word deur hidrokrag opgewek, en 46% van sy energiebehoeftes is afkomstig uit groen energie. Die Brasiliaanse owerhede het dus ook in hul argumente sterk klem gelê op die belangrikheid daarvan om skoon energie op te wek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.