Omstrede misdaadintelligensie-saak teen SAPD staan af

Kol. Kobus Roos Foto: Werner Beukes/SAPA

Kol. Kobus Roos Foto: Werner Beukes/SAPA

Solidariteit se onbillikearbeidspraktyk-saak teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) namens kol. Kobus Roos, wat al jare lank vergeefs probeer om korrupsie binne die SAPD aan die kaak te stel, het Maandag in die arbeidshof in Johannesburg afgestaan. Die hof het die partye versoek om Donderdag weer in die hof te verskyn en terugvoering te gee oor of ʼn skikking bereik kon word.

Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, sê indien die partye nie teen Donderdag ʼn skikking kan bereik nie, die saak sal voortgaan en die SAPD se aansoek om uitstel geargumenteer sal word. “Die SAPD het die naweek ʼn aansoek om uitstel ingedien en vra daarin dat die saak onbepaald uitgestel word. Die SAPD versoek ook dat kriminele klagte teen die applikante ondersoek word, aangesien die dokumentasie in die hofstukke volgens die SAPD vertroulik is. Die SAPD is egter al langer as ʼn jaar bewus van die dokumente en dit is reeds in die openbare domein. Indien die partye nie teen Donderdag ʼn skikking kan bereik nie, sal Solidariteit die SAPD se aansoek om uitstel teenstaan. Indien die aansoek afgekeur word, sal die saak teen Vrydag kan begin.”

Groenewald sê indien die saak voortgaan, kol. Roos onder andere sal getuig oor ondersoeke waarby hy betrokke was en die korrupsie wat daardeur blootgelê is. ’n Voormalige lid van die Skerpioene, twee lede van die Valke en verskeie SAPD-lede is gedagvaar om in die omstrede saak te getuig.

Kol. Roos, wat al vir 26 jaar in diens van die SAPD is, werk tans in die inspeksie- en evalueringsafdeling van die misdaadintelligensie-eenheid. Die afdeling was nooit funksioneel nie en is tans gesluit. Roos is deur lt.genl. Richard Mdluli, geskorste hoof van die misdaadintelligensie-eenheid, na dié afdeling geskuif nadat hy in ʼn beskermde bekendmaking bewerings en bewyse van korrupsie in dié eenheid blootgelê het. Roos het voorheen as hoof in die interne-ouditafdeling van misdaadintelligensie waargeneem en was onder meer verantwoordelik vir oudits van die sogenaamde rekening vir geheime dienste. Mdluli het Roos onder andere aangestel om dié rekening te ondersoek, maar het die ondersoek later stopgesit en Roos verskuif na die pos waarin hy tans is.

Solidariteit versoek dat Roos heraangestel word in sy vorige posisie in die interne-ouditafdeling, aangesien hy feitlik geen werk het om te doen in die pos waarin hy tans is nie en hy aan ondraaglike werksomstandighede onderwerp word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.