Omstrede misdaadintelligensie-saak teen SAPD uitgestel vir verhoor

Kol. Kobus Roos Foto: Werner Beukes/SAPA

Kol. Kobus Roos Foto: Werner Beukes/SAPA

Solidariteit se onbillikearbeidspraktyk-saak teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) namens kol. Kobus Roos, wat al jare lank vergeefs probeer om korrupsie binne die SAPD aan die kaak te stel, is Donderdag in die arbeidshof in Johannesburg tot volgende jaar uitgestel vir verhoor. Die arbeidshof het gelas dat die SAPD die vakbond se regskoste wat uit die uitstel spruit, moet betaal.

Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, sê die arbeidshof het Donderdag ʼn aansoek van die SAPD om die saak uit te stel, aangehoor. “Die SAPD het aangevoer dat die dokumentasie in die hofstukke vertroulik is. Hulle het ook aangevoer dat van die getuies wat gedagvaar is om in die saak te getuig, onder andere die geskorste hoof van die misdaadintelligensie-eenheid, lt.genl. Richard Mdluli, nie beskikbaar is om te getuig nie. Dit is duidelik dat lt.genl. Mdluli die SAPD se hoofgetuie in die saak sal wees. Die arbeidshof het die versoek om uitstel toegestaan en die saak van 10 tot 21 Februarie 2014 vir verhoor geplaas. Die SAPD is ook aangesê om sy stukke binne 14 dae te wysig.”

Die saak het Maandag afgestaan toe die regter die partye versoek het om vandag weer in die hof te verskyn en terugvoering te gee oor of ʼn skikking bereik kon word.

Groenewald sê wanneer die verhoor volgende jaar begin, kol. Roos onder andere sal getuig oor ondersoeke waarby hy betrokke was en die korrupsie wat daardeur blootgelê is. ’n Voormalige lid van die Skerpioene, twee lede van die Valke en verskeie SAPD-lede is gedagvaar om in die omstrede saak te getuig.

Kol. Roos, wat al vir 26 jaar in diens van die SAPD is, werk tans in die inspeksie- en evalueringsafdeling van die misdaadintelligensie-eenheid. Die afdeling was nooit funksioneel nie en is tans gesluit. Roos is deur lt.genl. Mdluli na dié afdeling geskuif nadat hy in ʼn beskermde bekendmaking bewerings en bewyse van korrupsie in dié eenheid blootgelê het. Roos het voorheen as hoof in die interne-ouditafdeling van misdaadintelligensie waargeneem en was onder meer verantwoordelik vir oudits van die sogenaamde rekening vir geheime dienste. Lt.genl. Mdluli het Roos onder andere aangestel om dié rekening te ondersoek, maar het die ondersoek later stopgesit en Roos verskuif na die pos waarin hy tans is.

Solidariteit versoek dat kol. Roos heraangestel word in sy vorige posisie in die interne-ouditafdeling, aangesien hy feitlik geen werk het om te doen in die pos waarin hy tans is nie en hy aan ondraaglike werksomstandighede onderwerp word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.