“Omstrede” sakeman wil AfriForum muilband

mediavryheid 3Die “omstrede” sake-onderneming TEB Properties en sy direkteur, Wandile Bozwana, bring eerskomende Dinsdag ’n dringende aansoek in die Noord-Gautengse hooggeregshof om AfriForum te verhoed om verder in die openbaar menings oor Bozwana se sakebedrywighede uit te spreek. AfriForum staan die aansoek teen.

Die aansoek spruit uit ’n verklaring wat AfriForum verlede week uitgereik het, waarin kommentaar gelewer word op sekere sakepraktyke van Bozwana en sy talle maatskappye, wat al meer as twee jaar lank in die openbare media figureer.

AfriForum het op 27 September 2013 ’n dringende aansoek in die Noord-Kaapse Hooggeregshof uitgereik nadat die organisasie bewus geword het van ’n ooreenkoms vir die betaling van R4,25 miljoen wat op 16 September 2013 tussen Edward Ntefang, die munisipale bestuurder van die munisipaliteit wat Kuruman insluit, en Bozwana gesluit is.

AfriForum meen dat Ntefang nie by magte was om die ooreenkoms te sluit nie, aangesien die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Finansiële Bestuur (Wet 56 van 2003) bepaal dat slegs ’n burgemeester uitgawes mag aangaan wat buite die betrokke munisipaliteit se begroting val.

’n Tussentydse bevel is verleen wat die betaling aan Bozwana stuit, en gelas dat dit in sy prokureur se trustrekening moet bly, hangende ’n omvattende aansoek wat later vanjaar aangehoor word om die betaling finaal te keer.

“AfriForum het binne die raamwerk van die reg op vryheid van spraak, soos vervat in artikel 16 van die Grondwet, opgetree. Dit is ’n fundamentele reg. Gegewe die inligting omtrent die sakepraktyke en werksgeskiedenis van mnr. Bozwana kom AfriForum se optrede neer op billike kommentaar wat in die openbare belang gelewer word,” sê Werner Human, wat verbonde is aan die firma Hurter Spies Ing, regsverteenwoordigers van AfriForum.

“AfriForum glo die publiek het ’n reg om te weet van omstrede besigheidspraktyke tussen die privaat sektor en die staat, en glo verder Bozwana poog om dié kosbare reg te sensor,” het Human bygevoeg.

Die saak word op 15 Oktober om 10:00 in die dringende hof in die Noord-Gautengse Hooggeregshof aangehoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jasper ·

Ek gaan nou ook n hofbevel teen die Ontvanger kry om sy neus uit my sake te hou..

H J Bester ·

In ‘n land met redelike vryheid van spraak, is dit belangrik dat die media die publiek inlig oor enige gebeure wat dui op onreëlmatigheid – in hierdie geval blyk dit sonder twyfel onreëlmatig te wees en is dit dus in publieke belang.

Bozwana daarenteen, wil alles bedek hê omdat hy weet dis korrupsie. Hoop van harte die Hof wys sy aansoek van die hand want dit het in elk geval geen substansie nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.