William Shakespeare word deur talle beskou as die mees vername skrywer van alle tye, maar daar hang tans ‘n wolk van omstredenheid rondom die skrywer.
Nagenoeg 400 jaar na sy afsterwe het twee Britse akademici die toneelstuk “All’s well that ends well” bestudeer en tot die gevolg gekom dat Shakespeare nie die alleen-outeur was nie. Die aanname kom as ‘n verrassing in letterkundige sirkels, maar dit is nie die eerste keer dat Shakespeare se nalatenskap in twyfel getrek word nie.
Daar is vier vraagstukke oor Shakespeare se lewe wat dié omstredenheid veroorsaak. Twee professore van Oxford, Emma Smith en Laurie Maguire, is ook van mening dat Shakespeare ‘n mede-skrywer gehad het met “All’s well”. Kundiges spekuleer ook dat dwelmmiddels ‘n rol gespeel het in Shakespeare se genialiteit. Hulle staaf hul bewerings deur die reëls “noted weed” en “a journey in his head” in sy sonnette.
Daar word ook bespiegel of Shakespeare moontlik meer werke geskryf het as wat aan hom toegedig is. Sagteware wat plagiaat in dokumente kan opspoor, het meer as 200 Shakesperiaanse frases in “The Reign of Edward III” opgespoor. Daar word vermoed dat Shakespeare dié stuk saam met Thomas Kyd geskryf het.
Die mees omstrede mening is egter Joseph C. Hart wat reeds in 1848 geskryf het dat Shakespeare “slegs werke van ander meer opgevoede toneelskrywers oorgeskryf het en dit bekend gemaak het deur net hier en daar ‘n vuil grap in te sluit”.