Omstrede wapentransaksie binnekort ondersoek

Gripen-vegvliegtuig vlieg verby die Uniegebou in Pretoria Foto: www.gripen.com

Die Kommissie van Ondersoek oor bewerings van bedrog en korrupsie in Suid-Afrika se multi-miljardrandse wapentransaksie sal op 5 Augustus begin.

“ʼn Omvattende verklaring sal binnekort uitgereik word,” het William Baloyi, woordvoerder vir die kommissie, Donderdag aan SAPA gesê. Die name van die onderskeie getuies sal glo in dié verklaring bekend gemaak word.

Twaalf fluitjieblasers sou aanvanklik tydens die eerste ronde van die verhoor op 4 Maart getuig. Die verhoor is uitgestel, aangesien die kommissie nog nie gereed was nie. Die kommissie het in daardie stadium gesê die verhoor sal tot November duur.

Volgens Baloyi het die kommissie, gelei deur regter Willie Seriti van die hoogste hof van appèl, aansoek gedoen vir ʼn verlenging tot ná die einde van die jaar.

President Jacob Zuma het die kommissie aangestel. Norman Moabi, die kommissie se voormalige senior ondersoekbeampte, het in Januarie 2013 bedank en die kommissie beskuldig dat hy ʼn “dubbele agenda” het. Die kommissie het dit ten sterkste ontken.

Die kommissie sal by die Sammy Marks-konferensiesentrum in Pretoria vergader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.