Omstredenheid oor Motlanthe se Seychelle-vakansie

Motlanthe. Foto: GCIS

Adjunkpresident Kgalema Motlanthe se woordvoerder, Thabo Masebe, sê hy weet nie hoekom “daar enige omstredenheid” moet wees rondom Motlanthe se onlangse vakansie by die Seychelle nie.

Dit kom nadat die DA gevra het dat die openbare beskermer ondersoek moet instel oor die beweerde gebruik van openbare fondse om ʼn deel van Motlanthe se vakansie te betaal. Masebe sê die adjunkpresident sê veiligheid tydens reise, hetsy amptelik of privaat, is die verantwoordelikheid van die regering. “Motlanthe het vir sy eie vakansie betaal. Die staat het slegs vir sy vervoer betaal.” Volgens die City Press is Motlanthe drie dae nadat hy in Desember in Mangaung deur pres. Jacob Zuma in die stryd om die ANC-presidentskap verslaan is, deur die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) na die Seychelle gevlieg. Motlanthe, sy lewensmaat en sowat vyf lyfwagte is by die luukse Desroches Island-vakansieoord ingeboek. Die koerant beweer hy het verskeie dokumente in sy besit wat die vakansie-uitgawes uitstippel. Die dokumente wys glo dat ʼn Falcon 900-lugmagvliegtuig gebruik sou word om Motlanthe en sy geselskap na die Seychelle te vlieg. Die Falcon kon glo egter nie op die eiland land nie en moes ʼn huurvliegtuig vir R83 000 aan die staat verhuur word. Volgens City Press kan ʼn enkelvlug van Suid-Afrika na die Seychelle in ʼn Falcon glo sowat R1 miljoen beloop. Daar is ook berig dat Motlanthe-hulle drie luukse villas vir 12 nagte geboek het teen meer as R2 miljoen. DA-LP David Maynier sê hy sal die openbare beskermer vra om ondersoek in te stel oor of daar enige oortredings van ‘n beleid, wet of regulasie was in die betalings vir Motlanthe se vakansie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Thabo Masebe, woordvoerder van Molhanthe, is skynbaar verontwaardig en weet nie hoekom die vakansie in omstredenheid gehul is nie.

Baie maklik, die ANC-regering het al soveel male gelieg oor staatsuitgawes wat deur regeringlui aangegaan is dat hulle nie moet wonder hoekom daar ook oor hierdie vakansie-uitgawe van Motlanthe vrae onstaan het nie.

Kom ons aanvaar die ANC-regering het weereens sy hand oorspeel en duisende rande spandeer op die vakansie van ‘n hoë regeringslid – en dit terwyl werkloosheid hoogty vier en armoede hand oor hand toeneem in Suid-Afrika. Hoe rerverdig die ANC-regering hierdie handelinge van hom ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.