Omstredenheid rondom Padbestuurskorporasie se segsman

Die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC) gaan ondersoek instel na hoe die verkeersrekords van sy woordvoerder, Ashref Ismail, glo onwettig verkry is en in ʼn koerant gepubliseer is.

Collins Letsoalo, waarnemende uitvoerende hoof van die RTMC, het Saterdag aan joernaliste gesê dat die Independent Newspapers-groep met Ismail se besonderhede ‘n aansoek op die eNaTIS, die departement van vervoer se nasionale padverkeersinligtingstelsel, ingedien het. “In die stelsel, is Ashref [as eienaar van die voertuig] die enigste persoon wat daai inligting kan aanvra,” het Letsoalo gesê. The Star het vroeër die week berig dat Ismail uitstaande verkeersboetes van R6 500 het en dat een van sy voertuie ʼn onwettige nommerplaat het en dat ʼn ander voertuig nie gelisensieerd is nie. Ismail het Solly Maphumulo, verslaggewer by die Independent Newspapers-groep, daarvan beskuldig dat hy ongemagtig die inligting oor sy voertuie verkry het.

Letsoalo sê dit is nog nie duidelik of dit wel Maphumulo was wat Ismail se inligting bekom het nie en dat hulle sal ondersoek instel na die voorval. Letsoalo het ook aan joernaliste ʼn brief met die briefhoof van die Independent Newspapers-groep gewys waarin daar glo inligting aangevra word oor ʼn Land Rover met die registrasienommer BD55CJGP. Die brief, gedateer 7 Mei, het Makhudu Sefara, redakteur van The Star, se naam op. Sefara het op sy beurt egter Ismail se bewerings betwis. “Ons dink Mnr. Ismail moet sy feite agtermekaar kry. Wanneer hy bewyse het vir sy bewerings dat ons verslaggewer onwettig opgetree het, dan sal ons na hom luister.”

Ismail sê het bewus geword van die uitstaande boetes nadat die artikel gepubliseer is en dat hy reeds die boetes gaan betaal het. Ismail sê hy besit sewe voertuie. Hy sê hy het in Februarie vanjaar die Land Rover Discovery gekoop en dat hy persoonlike nommerplate met die naam “ASHREF GP” bestel het en dat daar iets verkeerd geloop het met die registrasie van die voertuig. Ismail sê die ongelisensieerde voertuig was ʼn geskenk aan sy seun en dat die spoedkaartjies deur sy vrou gekry is nadat sy ʼn Jaguar getoetsbestuur het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarie van Niekerk ·

In plaas daarvan dat hulle hul woordvoerder, wat ‘n voorbeeld moet stel, vasvat omdat hy nie sy boetes betaal, met ‘n ongelisensieerde motor ry en ek weet nie wat nog alles nie, nou wil hulle alweer die media wie se werk dit is om sulke dinge uit te snuffel, vergruis!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.