Onderhandelings duur voort vir Pierre se vrylating

Pierre Korkie

Pierre Korkie

Onderhandelinge met ʼn groep ontvoerders wat ʼn Suid-Afrikaanse onderwyser in Jemen aanhou, duur voort, het Gift of the Givers Sondag gesê.

“Ons het ons strategie beplan,” het Imtiaz Sooliman, woordvoerder van die organisasie, gesê.

Sooliman sê sy kantoorbestuurder in Jemen is gereeld in telefoniese kontak met die ontvoerders wat Pierre Korkie gyselaar hou. Hy beplan ook om die ontvoerder Maandag persoonlik te ontmoet.

Pierre se vrou, Yolande, is die afgelope week met behulp van die organisasie vrygelaat. Sy en haar man is in Mei 2013 in Taiz ontvoer. Die ontvoerders het Vrydag $3 miljoen (ongeveer R30 miljoen) binne agt dae geëis vir Pierre se vrylating. “Die eerste doel is om die sperdatum te verleng en die volgende stap is om te sien of ons die bedrag kan verminder,” het Sooliman gesê. Hy sê sy kantoorbestuurder het ʼn “goeie verhouding” met die ontvoerders. “Ons hoop dat ons hulle kan oorreed dat ons nog tyd benodig.”

Volgens Sooliman het Suid-Afrika se ambassadeur in Saoedi-Arabië Sondagoggend in Jemen geland. Hy sal Yolande help met haar vervoerreëlings en ʼn nuwe paspoort sodat sy na Suid-Afrika kan terugkeer. Hy sê Yolande is Sondag al baie beter en voel bietjie meer kalm. Sy het Saterdag lank gehuil, maar spits haar nou daarop toe om ʼn veldtog in Suid-Afrika te begin om geld in te samel vir Pierre se vrylating.

“Sy is baie bekommerd oor haar man,” het Sooliman gesê.

Die Sunday Independent het berig dat Yolande in ʼn telefoniese onderhoud gesê het dat sy nie genoeg woorde het om Gift of the Givers te bedank nie. “Ons harte bars. Die mense van Suid-Afrika moet weet dat die passie en toewyding van die Gift of the Givers ongekend is.”

Lees alles oor Pierre Korkie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.