ʼn Saak van strafbare manslag is aanhangig gemaak nadat ʼn winkelsentrum, wat nog in aanbou is, Dinsdagmiddag in KwaZulu-Natal ineengestort het.
Lt. Mandy Govender, ʼn polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê die polisie sal bepaal of daar enige nalatigheid betrokke was by die konstruksiewerf in Tongaat, noord van Durban, en wie aanspreeklikheid moet aanvaar vir die voorval.
Die departement van arbeid het ook ʼn ondersoek oor die aangeleentheid van stapel gestuur en het die ondersoek by die toneel oorgeneem. Govender het egter gesê die polisie sal op die toneel bly.
ʼn Vrou is dood toe ʼn stuk van die gebou bo-op haar geval het. Volgens Govender word drie mense nog vermis en bestaan die moontlikheid dat nog mense onder die puin vasgekeer is. Die gebou is glo min of meer so groot soos ʼn sokkerveld.
Reddings- en opruimingswerk is Woensdagoggend vir ʼn ruk lank vertraag terwyl die departement van arbeid vragmotors moes reël om van die swaar bourommel te verwyder.
Maroela Media het vroeër berig ʼn verdere 29 mense is in die voorval beseer. Skhumbuzo Ngcobo, een van die konstruksiewerkers, sê die ongeluk is moontlik veroorsaak deur die konstruksie van die winkelsentrum wat te vinnig beweeg het. Hy sê die steierwerk is twee of drie dae nadat die sement gegiet is, verwyder. Daar is ook intussen vasgestel dat die bouplanne vir die winkelsentrum nog nie deur die eThekwini-munisipaliteit goedgekeur is nie. Lees meer hier.
Lees ook:
Minstens een dood, talle beseer na winkelsentrum ineenstort
Foto’s: 50 werkers moontlik in winkelsentrum vasgekeer