Ondersoek geëis na Lonmin-skietery

Foto: Taurai Maduna/EWN

Politieke partye en georganiseerde arbeid het gevra vir ʼn dringende ondersoek na die skietery by Lonmin se Marikana-myn buite Rustenburg waarin minstens 18 mynwerkers na bewering doodgeskiet is.

Volgens berigte is minstens 18 tot 20 mynwerkers deur die polisie doodgeskiet. President Jacob Zuma sê hy is bekommerd en hartseer oor die feit dat die dispuut by Lonmin gelei het tot die verlies van lewens. Zuma het gevra dat die situasie so gou as moontlik onder beheer gebring word en dat oortreders aan die pen moet ry. Jackson Mthembu, woordvoerder van die ANC, sê daar moet vasgestel word wie verantwoordelik was vir die konfrontasie tussen die polisie en die stakende mynwerkers. “Almal van ons voel baie hartseer oor die geweld wat ons op televisie gesien het,” het hy gesê. “Ons vra dat ons regering ‘n ondersoek van stapel stuur oor wat vandag gebeur het, sodat almal van ons Suid-Afrikaners tot ‘n gevolgtrekking kan kom oor wie verantwoordelik is.” Die DA sê hy is geskok en verstom oor wat by Lonmin gebeur het. “Ons doen ‘n beroep op vakbondleiers, die polisie en almal betrokke om dadelik aan die werk te spring en die konflik te ontlont,” het die party in ‘n verklaring gesê. “Aksie moet geneem word om verdere bloedvergieting te voorkom.” Die DA het gesê ‘n dringende onafhanklike ondersoek is nodig om vas te stel wat gebeur het en wie daarvoor verantwoordelik was. Die Inkatha Vryheidsparty en Cope het ook gevra vir ʼn ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.