Ondersoek gelas na “rassistiese” Oos-Kaap-vakansieoord

ʼn Ondersoek is na ʼn vakansieoord in die Oos-Kaap gelas na hulle glo gesê het dat ʼn swart kind nie daar welkom is nie, het die Parke en Toerismeagentskap vir die Oos-Kaap (ECPTA) Donderdag gesê.

Die 11-jarige seun was veronderstel om op 7 Januarie saam met sy 12-jarige wit maat se gesin na die Lapel Le-oord in Cintsa te gaan. “Die wit seun se ma het gesê dat, ten spyte daarvan dat hulle vir ʼn ses daelange vakansie volwassene-tariewe vir die twee seuns betaal het, sy vooruit gebel het en ingelig is dat haar seun se maat glo nie op die eiendom toegelaat sou word nie,” het ECPTA woordvoerder Veliswa Mhlapo gesê. “Die moeder is glo aangesê dat slegs die swart werkers die perseel mag betree en dat die swart seun nie die gesin sou kon vergesel nie,” het sy bygevoeg. Volgens Mhlapo het Sybert Liebenberg, uitvoerende hoof van ECPTA, ʼn span saamgestel om ʼn ondersoek na die bewerings in te stel.

ʼn Afsonderlike voorval is vroeër in Januarie by ʼn oord naby Port Elizabeth aangemeld. “Ons het tans nie enige besonderhede oor daardie voorval nie, maar ons sal volgende week meer weet,” het Mhlapo gesê. ʼn Verslag oor die voorvalle sal op 25 Januarie aan die publiek bekendgestel word. “Deur hierdie ondersoek sal ons kan bevestig of hierdie wel toeriste-aantreklikhede is wat as sodanig by die ECPTA geregistreer is, en dan sal ons van die wetgewing en ons mandaat gebruik maak om die voorvalle te hanteer.

Liebenberg sê ECPTA sal seker maak dat soortgelyke voorvalle nie weer gebeur nie. “Ons sal nie rasisme in enige vorm duld nie. Ons kan hierdie negatiewe impak op die Oos-Kaapse toerisme nie verdra nie,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.