Ondersoek glo na Eureka en sy kubuskoning gedoen  

Adriaan Nieuwoudt. Foto: Facebook

Adriaan Nieuwoudt, voormalige kubuskoning van Garies in die Noord-Kaap, se Eureka Beweging word weer eens druk bespreek deur die mense wat aandele gekoop het in sy nedersetting wat “slegs blankes” toelaat om daar te woon.

Dit volg nadat ʼn boodskap versprei is waarin beweer word dat ʼn ondersoek oor Eureka en Nieuwoudt se sake gedoen is. Die verslag beslaan glo derduisende bladsye en meer as R165 miljoen is betrokke.

“Die Valke kan nou met die ondersoek voortgaan en vervolg soos nodig,” sê die skrywer van die boodskap, ene Johan Gräbe. Volgens die boodskap is die opdrag vir die ondersoek deur adv. Carlo Viljoen gegee wat voorheen vir vier maande die besturende direkteur van die Eureka-maatskappy was.

Gräbe vra verder dat aandeelhouers met ʼn lid van die Valke, ao. Du Raan in Upington in verbinding tree indien hulle geld in Eureka verloor het. Du Raan wou by navraag geen inligting aan Maroela Media verstrek nie.

Nieuwoudt, oftewel Oom Adriaan soos feitlik al die aandeelhouers na hom verwys, is die amptelike koördineerder van die Eureka-projek wat as ʼn sekuriteitsdorp beskryf word waar mense kan aftree, leef en werk, met hul eie skole en winkels, en mediese sorg in Afrikaans kan geniet.

Nieuwoudt het aan Maroela Media gesê Viljoen én Gräbe is reeds op 29 Februarie ná ʼn eenparige besluit deur die maatskappy se direksie “oneervol” ontslaan. “Die twee het geen finansiële belange by Eureka nie. Eureka Beperk is ʼn beslote maatskappy met meer as 8 000 aandeelhouers wat slegs een begeerte en een doel het. Ons wil vir ons mense ʼn veilige hawe skep en ongelukkig is daar nie plek vir mense met verskuilde agendas nie,” aldus Nieuwoudt.

Hy beskuldig Gräbe daarvan dat hy reeds drie keer Eureka se databasis onregmatig gebruik het om homself finansieel te bevoordeel en sê Viljoen is van al Eureka se Facebook-groepe verwyder.

Viljoen ontken egter dat hy ontslaan is. Hy het sy bedankingsbrief gedateer 13 Januarie 2020 aan Maroela Media gestuur en sê hy het sowat 150 briewe van ontevrede aandeelhouers ontvang in sy kort tydperk as besturende direkteur. Hy het ook vasgestel dat die grond waarop huise gebou word nie in Eureka se naam oorgedra of betaal is nie en dat die Kamiesberg-munisipaliteit in die landdroshof in Garies aansoek gedoen het om die 32 huise op Eureka te sloop.

“Hulle het toe reeds ʼn interdik bekom om bouwerk op die plaas te beëindig omdat die grond vir landboudoeleindes gesoneer is wat beteken dat die dorpstigting onwettig is. As besturende direkteur was dit my plig om aandag aan die probleme te gee,” sê Viljoen wat sedertdien alle bande met Eureka verbreek het.

Hy het vir Gräbe betrek om met Nieuwoudt se medewete en goedkeuring ʼn onafhanklike ondersoek te doen en beweer dat sy verslag gewys het dat ʼn handjievol aandeelhouers wat in Nieuwoudt se binnekring is, meer as ander bevoordeel word met die koop en verkoop van aandele.

“Hulle maak groot geld terwyl die ander mense nie so gelukkig is nie.” Viljoen beweer Nieuwoudt het dit ontken en ook geweier om regstellings te maak. “En vir daardie redes het ek binne vier maande bedank.”

Dat daar tweespalt onder die Eureka-beleggers is blyk duidelik uit hul kommentare op Facebook-plasings. Party glo steeds in Nieuwoudt se droom terwyl ander bitterlik kla dat hulle geld verloor het. Hulle noem bedrae van derduisende rande en waarsku dat Eureka ʼn bedrogspul is.

Foto: Facebook

Daar is selfs ʼn Facebook-groep met die naam “Adriaan Nieuwoudt se bedrog deur middel van Eureka”. Die groep het 219 lede en draai nie doekies om oor hul misnoeë met Eureka en Nieuwoudt nie.

Een van Nieuwoudt se ondersteuners, Deon Harmse, het Maroela Media laat weet dat hy in besit is van ʼn klankopname waarin Gräbe glo dreig dat hy nie sal stop tot hy Nieuwoudt en Eureka vernietig het nie.

Dirk Pretorius aan die ander kant het telefonies vertel dat sy pa in armoede gesterf het nadat hy sowat R2 miljoen in ʼn ander beleggingskema verloor het wat Nieuwoudt ook na bewering bedryf het.

Maroela Media het reeds in 2016 berig dat daar vrae was oor wanneer die Eureka-projek sou afskop, wie mag inkoop en of die plaas waar die nedersetting gevestig sou word reeds aangekoop was. ʼn Vrou wat ʼn 25%-deposito vir haar “plekkie in die son langs die Weskus” inbetaal het, het destyds gekla dat niemand op haar navrae reageer nie, maar sy was later skynbaar tevrede nadat sy wel antwoorde ontvang het.

ʼn Geskikte plaas was op daardie tydstip nog nie gevind nie, maar ʼn bestuurslid van die beweging het ontken dat die droom van selfbeskikking eintlik net ʼn geldmaakfoefie was. “Vir R10 000 kry ʼn Afrikaner-pionier volle eiendomsreg van 1 ha per aandeel en die kopers kan na hartelus op hul stukkie grond bou en werskaf, solank dit landbouverwant is en bydra tot die selfbeskikking van almal daar,” is destyds aan Maroela Media gesê.

“Dit was ook my droom,” sê Viljoen wat Eureka se aansoek om selfbeskikking in die hooggeregshof in Kimberley geliasseer het voordat hy bedank het. “Die hofdatum vir die saak was 20 November, maar ek het die aansoek intussen gekanselleer.”

Gräbe het nie op navrae gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Dina Ronell ·

So hou Adriaan maar net aan met lieg. Hierdie Eureka was n goed beplande skelm streek. Daarom sal jy op FB n blad kry met die naam Nie Wold Cities van 2014 Waar Adriaan die water getoets het. Waar hy op ons volk se vrese geld uit gemaak het. Skande dat so n ou mens sy skelm streke op mense soos Grabe afstoot. Grabe was nooit betrokke nie. Maar het slegs die oudit gedoen. Toe Carlo Viljoen besef wat die omvang vd bedrog is, het hy gou bedank en weg gehardloop. Carlo moes sy huiswerk beter gedoen het voor hy die pos as direkteur aanvaar het. Mag al die skapies wat agter Louis Liebenbetg en Adriaan se diamant smokkel nou aan hardloop eerder besing. Jul trane gaan damme vol maak.

Pietertjie ·

En daarvoor het die NVG tyd, geld en mannekrag. Maar nie vir plaasmoorde nie

Frederik C ·

Die perd het my al destyds, met sy sg sandfabriek, ingeloop. Ek het’n paar duisend rand verloor. Hy is maar dieselfde kaliber as Ace. Niks beter nie.

Einstein ·

‘n Jakkals verander van kleur, maar nie van streke nie.

Drikus ·

Eenmaal ‘n bedrieër, altyd ‘n bedrieër.. “Jakkals verander van hare, maar nie van snare”

Veronika ·

Van dag een af beginnend met die kubus gemors – ons het hier op Upington gesien hoeveel mense het geld verloor daarmee – is elke “ding” wat hy nog aangepak het net eenvoudig ‘n bedrogspul!!! Hoe val mense keer op keer vir sy nonsens wetende watter bedrogspul die kubusse was! Ag nee rerig die blerrie ou man moet liewers ‘n slag in die tronk beland miskien hou sy nonsens op!!

Gemaskerde Sopbeen ·

Stap 1. Verklaar vir Awerjan as ‘n Misdadige Direkteur vir die res van sy lewe. Net soos met Dudu Meyeni.

Stap 2. Ondersoek al die beleggers of hulle instaat is om eie belange te hanteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.