Die departement van onderwys in Gauteng ondersoek ʼn beweerde voorval van mishandeling by ʼn skool nadat ʼn leerder glo kos van die grond af moes eet.
Charles Phahlane, woordvoerder van die departement, sê die voorval het glo by ʼn skool in Soshanguve, noord van Pretoria, plaasgevind. Phahlane sê die departement sal Donderdag ʼn afvaardiging na die skool stuur om die beweerde voorval te ondersoek. EWN berig dat ʼn huiswerk-toesighouer glo kos van die skool se voedselskema gevat en op die grond gegooi het en ʼn graad 6-leerling gedwing het om dit te eet. “Ons is geskok deur die bewerings. Ons sien sulke sake in ʼn ernstige lig,” het Phahlane gesê.