ʼn Nadoodse ondersoek word Vrydag uitgevoer om die dood te bepaal van die soldaat wat vroeër die week in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein gesterf het. Die soldaat is dood nadat hy beseer is tydens ʼn aanval in die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR).
Maroela Media het vroeër berig sersant Othneal Mahasa (49) is op 19 April uit die 1 Militêre Hospitaal in Pretoria ontslaan en is terug huis toe, in Bloemfontein. Hy het Maandag ineengestort en is na die hospitaal geneem. Hy is na 3 Militêre Hospitaal in Bloemfontein gehaas voordat hy na die Pelonomi-hospitaal oorgeplaas is. Hy het in die hospitaal gesterf.
Dertien SANW-soldate is op 23 Maart dood in ‘n skermutseling met rebelle naby die SAR se Bengui-grens. ‘n Verdere 27 soldate is gewond. Die SANW het soldate na die land gestuur op grond van ‘n ooreenkoms wat tussen Suid-Afrika en die ontsetelde president Francois Bozize gesluit is.