‘Ondersoekbeampte se bedanking sal nie Oscar-moordsaak beïnvloed’

Ao. Hilton Botha. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die polisie het Vrydag gesê die bedanking van ao. Hilton Botha, die voormalige hoofondersoekbeampte in die Oscar Pistorius-moordsaak, sal nie die saak beïnvloed nie.

Brig. Neville Malila, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê as Botha gedurende die saak benodig word, sal hy beskikbaar wees om te getuig. Botha het Woensdag sy onmiddellike bedanking ingehandig.

Maroela Media het Donderdag berig dat Botha na 22 jaar se diens sy bedanking uit die Suid-Afrikaanse Polisiediens bevestig het. Botha is onlangs deur die staat van Pistorius se saak verwyder nadat dit aan die lig gekom het dat hy tereg staan op sewe aanklagte van poging tot moord. Lees meer hier.

Botha het gesê die Pistorius-saak het baie druk op hom geplaas, maar dit is nie die aanvanklike rede hoekom hy bedank het nie. “Dit was dalk 10% van die rede, maar daar is ander faktore wat ook ʼn rol gespeel het,” het Botha aan JacarandaFM gesê. Hy het ook gesê dit het vir hom gevoel of die polisiemag hom nie ondersteun het toe hy dit die nodigste gehad het nie. Hy het egter gesê hy koester geen kwade gevoelens teenoor die polisiediens nie.

Hy sê hy het werk by ʼn private sekuriteitsmaatskappy gekry wat beter betaal en hom in staat gaan stel om sy seun se universiteitskostes te kan betaal. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.