Ondersteuning vir Mogoeng na uitnodiging na Christen-konferensie

President Jacob Zuma saam met Hoofregter Mogoeng Mogoeng. Foto: GCIS

Die Hoofde van Howe sê hulle het volle vertroue in Hoofregter Mogoeng Mogoeng en sal hom in sy werksaamhede steun.

Hulle het gereageer op berigte dat Mogoeng ernstige bedenkinge het oor die skeiding van die kerk en die regbank deur topregters opdrag te gee om ‘n leierskapskonferensie deur die Amerikaanse evangelis, John Maxwell, by te woon. “Die hoofde van howe het kennis geneem van sommige van die bewerings in die media rakende Hoofregter Mogoeng Mogoeng na afloop van uitnodigings aan hulle om ‘n konferensie by te woon. Die uitnodiging was nie vir ‘n godsdienstige byeenkoms nie, maar na ‘n leierskap-konferensie, wat niemand beveel of verplig is om by te woon nie.” Die Mail & Guardian het Vrydag berig dat ʼn e-pos wat namens Mogoeng aan die hoofde van howe, insluitend die regter president van die hoogste hof van appèl, gestuur is, hulle versoek is om ʼn leierskap-konferensie by te woon. Mogoeng, ‘n lekeprediker, het vroeër gesê hy het niemand gedwing om dit by te woon nie. Hy sê die berigte is “sleg vir ons land” en dat dit “buite konteks is en sensasie soek.” Mogoeng sê ʼn komitee is in 2005 op die been gebring om ondersoek in te stel na bewerings van rassisme in die regbank, en dat die komitee ‘n behoefte geïdentifiseer het vir leierskap-opleiding vir die hoofde van die howe. Die Christen Demokratiese Party het Sondag gesê dat die liberale en ateïste hulle oë hou op Mogoeng. “Dit wil voorkom of die liberale en ateïste hul skerp oë op Mogoeng gevestig hou en net wag dat hy iets doen waaroor hulle beswaar kan maak. En hoekom? Net omdat hy ‘n toegewyde Christen is wat ‘n Christelike waardestelsel aanhang. Sou hy ‘n toegewyde ateïs gewees het wat ‘n liberale waardestelsel aangehang het, wat net soveel ‘godsdiens’ is as die Christelike, sou hy sonder teenkanting ooreenkomstig sy oortuigings kon handel. Die liberaliste vereis van Mogoeng om regverdig te oordeel, en dan betwyfel hulle dit dat hy dit sal doen omdat hy deur onvergelykbare waardes gelei word. Dit laat ‘n mens dink,” het die partyleier Theunis Botha in ‘n verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.