Onderwyser gevang wat glo driejarige vermoor

ʼn 30-jarige onderwyser is in hegtenis geneem na hy glo ʼn driejarige dogtertjie in Koffiekraal buite Rustenburg doodgesteek het, het die polisie in Noordwes Saterdag gesê.

Brigadier Thulani Ngubane het gesê die onderwyser het glo die driejarige gesteek nadat hy Donderdag glo in ʼn argument met die dogtertjie se ma betrokke was. Die onderwyser en die ma was glo in ʼn verhouding. “Hy het vroeër die dag met sy meisie (die ma van die driejarige) baklei en toe na haar huis toe gegaan, maar sy het geweier om met die verdagte te praat en sy het haarself in die huis toegesluit. Ngubane sê die onderwyser het toe die kind wat buite saam met ʼn maatjie gespeel het, na sy huis toe geneem. Die kind se tannie het gemerk dat sy vermis word en aangeneem dat die onderwyser haar moes geneem het. Die driejarige se tannie het glo toe na die onderwyser se huis gegaan waar die deur gesluit was en sy het toe aan die venster geklop nadat sy die onderwyser met die kind hoor praat het. “Die kind het glo toe geskree en die verdagte het buitekant toe gekom en die mes vasgehou waarmee hy homself ook in die nek mee gesteek het,” het Ngubane gesê. Die driejarige het op die toneel aan haar wonde beswyk en die onderwyser is na die hospitaal afgevoer. Die onderwyser is Vrydag in hegtenis geneem na hy uit die hospitaal ontslaan is. Hy sal Maandag in die landdroshof in Madikwe verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.