Onderwyser nog nie vergoed na afdanking oor leerder se punte nie

Arlene Nel, ‘n onderwyser wat glo afgedank is nadat sy nie met die skoolhoof se seun se punte wou knoei om hom te laat slaag nie, het nog nie haar regmatige vergoeding ontvang nie.

Die vakbond Solidariteit het ʼn aanmaningsbrief aan die departement van onderwys gerig om te versoek dat Nel, ʼn voormalige wiskunde- en wetenskaponderwyser aan Hoërskool Kakamas, binne twee weke vergoed word. Indien die departement nie hieraan gehoor gee nie, sal Solidariteit die arbeidshof nader.

Die Raad op Arbeidsverhoudinge in die Onderwys (Ravo) het beslis dat die departement Nel vergoeding moet betaal nadat sy afgedank is. Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, sê Ravo het in Mei vanjaar beslis dat Nel vergoeding moet ontvang, aangesien daar ʼn redelike verwagting geskep is dat haar kontrak hernu sou word. “Nel moes reeds teen 15 Junie haar vergoeding ontvang het, maar het tot op hede nog nie ʼn sent ontvang nie. Indien die departement nie op Solidariteit se aanmaningskrywe reageer nie, sal die vakbond die arbeidshof nader om die toekenning van die vergoeding ʼn hofbevel te maak. Indien die departement ook nie hieraan gehoor gee nie, sal Solidariteit ’n lasbrief vir eksekusie kry en op die departement se bates beslag lê. Die vakbond sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat Nel haar vergoeding ontvang.”

Nel was sedert Januarie 2012 ʼn werknemer van Hoërskool Kakamas waar sy wiskunde en wetenskap vir graad 10- tot 12-leerders aangebied het. Sy is in Januarie 2013, ná haar Desemberverlof, per SMS deur die skoolhoof ingelig dat haar dienste by die skool oorbodig is. Sy was swanger in dié tyd. Haar afdanking het gevolg kort nadat die skoolhoof haar gevra het om sy graad 11-seun se punte vir Lewenswetenskappe (Biologie) aan te pas sodat hy kon slaag. Nel het geweier om dit te doen, aangesien die seun heelwat minder as die minimum vakslaagsyfer behaal het en onderwysers nie toegelaat word om leerders se punte na willekeur aan te pas nie. Die seun het boonop twee ander vakke ook nie geslaag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gerhard ·

Sies vir die betrokke skoolhoof om te verwag onderwysers moet skelm wees om in sy doel te slaag.

Alta ·

Nou vra ek waste voorbeeld skep daai Hoof vir die hele skool ???? Om Skelm te wees ? Ag nee man waar le die beginsels

Riana Swanepoel ·

Die optrede van hierdie hoof maak dat die onderwysberoep nooit ‘n volwaardige “professie” kan wees nie. Gaan daar enigsins teenoor die hoof opgetree word?

Melissa ·

Daar moet iets gedoen word teenoor daai skoolhoof! Hy kan mos nie so iets doen en net verwag hy moet aangaan met skoolhoof wees nie. Dit is belaglik!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.