Onderwysers betaal glo ná beweerde seksuele aanrandings

Ten minste 20 aanklagte van seksuele aanranding is teen onderwysers in Durban aanhangig gemaak. Die jongste slagoffer was glo ‘n 6-jarige.

Al dié sake is egter laat vaar weens ‘n gebrek aan bewyse, of, volgens die departement van onderwys, ooreenkomste tussen die ouers en beweerde oortreders dat hulle “skadevergoeding” sal betaal. Die slagoffers is gewoonlik ook te skrikkerig om teen die beweerde oortreders te getuig in sake waar die onderwysers by skole as die aanklaers optree en die leerders in die personeelkamer ondervra, berig SowetanLIVE. Die Umlazi-onderwysdistrik is die grootste in dié provinsie. ‘n Bron by die departement het egter gesê die 20 gevalle is slegs die oortjies van die seekoei. Die departement het glo ook ‘n neiging opgemerk dat voormalige model C-skole nie meer seksverwante misdade aanmeld nie.

“Daar is selfs ‘n geval in die distrik waar een van die leerders swanger geraak het, maar die onderwyser het ilobolo betaal,” het die bron gesê.

‘n Ouer, wie se kind deur een van die onderwysers aangerand is, het gesê haar kind is reeds twee keer by die skool aangerand. “Sy is seksueel aangerand en ander onderwysers het haar ondervra en gedreig om haar dood te maak as sy met die saak voortgaan,” het die ma gesê. “Ek het my dogter na ‘n ander skool geskuif omdat sy nie veilig was nie.”

Sihle Mlotshwa, beampte van die departement van onderwys, het bevestig dat die jongste slagoffer ses jaar oud was. Maar Mlotshwa het ontken dat die departement van die 20 gevalle bewus is. “Ons weet van sewe sake by die hoërskole Vukuzakhe, Mawelewele, Yellowwood Park en Zwelethu, laerskool Isidingo en twee ander skole wat ons nog moet bevestig.” Die mees onlangse klag was van ‘n 6-jarige by laerskool Isidingo.

Linda Naidoo, direkteur van Child Line, sê hulle is besorg oor die probleem. “Ons (Umlazi) het die hoogste aantal gevalle. Die probleem is baie groot. Sommige gevalle word nie aangemeld nie, aangesien die oortreders die slagoffers manipuleer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.