“Onheilspellende stilte” van Korkie-ontvoerders

Pierre Korkie wat in Jemen ontvoer is, is steeds in aanhouding.

Pierre Korkie wat in Jemen ontvoer is, is steeds in aanhouding.

JONGSTE: Dr. Sooliman het Saterdagoggend in ‘n verklaring bevestig hulle het nuus van die ontvoerders ontvang. Klik hier om meer te lees.

Daar was teen Vrydagmiddag nog geen woord van Pierre Korkie se ontvoerders in Jemen nie.

“Ons is angstig om van die ontvoerders te hoor, maar daar was nog geen kommunikasie nie,” het dr. Imtiaz Sooliman, hoof van die Gift of the Givers gesê. “Daar was van Woensdag af ʼn afname in kommunikasie tussen ons en die ontvoerders. Ons het daardie dag slegs drie minute met hulle gepraat.”

Hy sê hulle het vroeër ʼn hele paar uur op ʼn dag met mekaar gesels, óf op die telefoon óf van aangesig tot aangesig óf albei.

Korkie se ontvoerders het sy familie tot Vrydag kans gegun om ʼn losprys van $3 miljoen (ongeveer R32.5 miljoen) binne agt dae te betaal vir sy vrylating. “In ons berekeninge is die sperdatum van die agt dae Saterdagoggend om 06:00, maar hulle het Maandag gesê die sperdatum is Vrydag. Hulle het nie ʼn spesifieke tyd gegee nie,” het Sooliman gesê.

Sooliman het Woensdag gesê hulle het die ontvoerders ʼn maand uitstel gevra om die losprys in te samel, maar het geen reaksie ontvang nie.

Daar was Donderdag geen kommunikasie nie.

Hulle het later weer met Korkie se ontvoerders gepraat om dit duidelik te maak dat, alhoewel die sperdatum dalk uitgestel is, daar “geen manier is” wat $3 miljoen ingesamel sal word nie, ongeag van die hoeveelheid maande wat gegun word. “Ons wou nie die verwagting skep dat hulle oor 30 dae $3 miljoen sal kan kry nie,” het Sooliman gesê.

Sooliman sê daar was vir die eerste keer in 11 dae ʼn “onheilspellende stilte”. “Hulle het nie reageer, kommentaar gelewer, erkenning gegee of enigiets gesê nie. Hulle het net die foon doodgedruk.” Toe hulle weer bel, het die ontvoerders nie geantwoord nie.

Anas al-Hamati, die organisasie se kantoorbestuurder in Jemen, het in daardie stadium vir sy lewe begin vrees. “Hulle het Maandag vir hom gesê as hy nie die $3 miljoen het nie, moet hulle hom dalk ontvoer.” Al-Hamati is Donderdagaand na ʼn plek van veiligheid geneem.

Korkie en sy vrou, Yolande, is in Mei in Jemen deur Al-Kaïda-militante ontvoer. Yolande het Maandag in Suid-Afrika geland nadat hulle haar verlede week, sonder ʼn losprys, vrygelaat het. Gift of the Givers het haar vrylating bewerkstellig.

Die departement van internasionale betrekkinge het Vrydag gesê sy adjunkminister, Ebrahim Ebrahim, sal Saterdag na Jemen reis om met die regering en ander betrokke partye te vergader oor die ontvoering.

Lees alles oor Pierre Korkie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.