Onnie vergoed na afdanking oor leerder se punte

Arlene Nel, ʼn voormalige wiskunde- en wetenskaponderwyser aan Hoërskool Kakamas, het uiteindelik vergoeding ontvang nadat sy afgedank is omdat sy nie met die skoolhoof se seun se punte wou knoei om hom te laat slaag nie, het die vakbond Solidariteit Dinsdag gesê.

Solidariteit het voorverlede week ʼn aanmaningsbrief aan die departement van onderwys gerig en versoek dat Nel binne twee weke haar vergoeding moet ontvang.

Moira-Marie Kloppers, woordvoerder van Solidariteit, sê die vakbond het vroeër gedreig om die arbeidshof te nader indien Nel nie binne die twee weke haar vergoeding ontvang het nie. “Ons is verheug dat Nel haar vergoeding ontvang het aangesien dit ʼn sterk boodskap stuur dat werkgewers wat hul werknemers vir eerlike optrede wil straf, nie geduld sal word nie. Ons lid het reg opgetree deur te weier om die seun se punte aan te pas en die Raad op Arbeidsverhoudinge in die Onderwys (Ravo) se beslissing dat haar afdanking onregmatig was en die gevolglike vergoeding wat sy ontvang het, is bevestiging hiervan.”

Ravo het in Mei vanjaar beslis dat Nel vergoeding moet ontvang, aangesien daar ʼn redelike verwagting geskep is dat haar kontrak hernu sou word. Nel was sedert Januarie 2012 ʼn werknemer van Hoërskool Kakamas waar sy wiskunde en wetenskap vir graad 10- tot 12-leerders aangebied het. Sy is in Januarie 2013, ná haar Desember-verlof, per SMS deur die skoolhoof ingelig dat haar dienste by die skool oorbodig is. Sy was swanger in dié tyd. Haar afdanking het gevolg kort nadat die skoolhoof haar gevra het om sy graad 11-seun se punte vir Lewenswetenskappe (Biologie) aan te pas sodat hy kon slaag. Nel het geweier om dit te doen, aangesien die seun heelwat minder as die minimum slaagvereiste vir die vak behaal het en onderwysers nie toegelaat word om leerders se punte na willekeur aan te pas nie. Die seun het boonop twee ander vakke ook nie geslaag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gert Malan ·

Die korrupte slang sal natuurlik niks oorkom nie. Hy sal eerder gedissiplineer word omdat hy uitgevang is.

Mike ·

So hoof moet afgedank word as dit die geval is en die feite in die storie waar is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.