Onnies bank skool uit vrees vir leerlinge

Onderwysers van ʼn hoërskool in die Oos-Kaap bly al vir ʼn week lank weg van die skool uit vrees vir die leerlinge.

Die Dispatch Online berig die onderwysers van Hoërskool Wongalethu in Mdantsane, het verlede Woensdag van die skool gevlug nadat die leerlinge begin betoog het.

Die graad 12-leerlinge het oproerig geraak nadat hul enigste wiskundeonderwyser na ʼn naburige skool ontplooi is en hulle eis dat hy heraangestel word.

“Ons is bekommerd. Ons eksamen begin oor ʼn paar maande en ons kan druip omdat ons nie ʼn wiskundeonderwyser het nie,” het Lukhanyo Booi, hoof van die verenigde raad van leerders, gesê.

“Dit dwing ons om na-ure in groepe van 10 tot 15 by ons voormalige onderwyser klas te kry. Dit plaas baie spanning op ons en op hom,” het Booi gesê.

Die leerlinge wou Maandag hul griewe aan die hoofkantoor van die provinsiale departement van onderwys in King William’s Town oorhandig, maar het nie vervoer gehad nie.

Sihle Mnguni, die streeksdirekteur van die departement van onderwys, het aan die koerant gesê die departement is besig om met onderwysers, leerlinge, ouers en die skool se beheerliggaam te onderhandel om sake op te los.

Intussen het die beheerliggaam hul kommer uitgespreek omdat die leerlinge nie tans klas bywoon en leer nie.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.