Onregmatige inhegtenisnemings kos belastingbetalers miljoene

Uitbetaling van siviele eise wat howe teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) toegestaan het, het sedert 2009 met meer as 100% toegeneem. Howe het in 2008/2009 R50,1 miljoen se siviele eise teen die polisie toegestaan, teenoor R108,5 miljoen in 2011/2012. Dit blyk uit ʼn antwoord van die minister van polisie, Nathi Mthethwa, op ’n vraag van Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder vir polisie van die Vryheidsfront Plus, in die parlement.

“Dit is kommerwekkend dat die helfte van die eise, R53 miljoen, in 2011/2012 as gevolg van onregmatige inhegtenisnemings was. Dit getuig van swak opleiding en dissipline wat daarop dui dat lede van die polisie nie weet wat hulle magte of bevoegdhede is nie, of dit eenvoudig misbruik,” het Groenewald Woensdag in ʼn verklaring gesê.

“Die minister sal moet antwoord watter stappe teen die lede van die polisie gedoen is wat hulle hieraan skuldig gemaak het. Belastingbetalers moes die afgelope vier jaar, vir onregmatige inhegtenisnemings alleen R137,2 miljoen opdok, wat onaanvaarbaar is.”

Volgens die antwoord van die minister is R1,8 miljoen se eise in 2008/2009 weens aanranding deur die polisie toegestaan, en in 2011/2012 was die bedrag R4,5 miljoen, wat ’n toename van meer as 100% verteenwoordig.

“Dit is eise soos hierdie wat die vrees van die publiek in die polisie versterk. In sommige gevalle het die onregmatige inhegtenisnemings gepaard gegaan met verkragting in polisieselle. In dieselfde vraag het ek die minister gevra hoeveel lede van die polisie skuldig bevind is aan verkragting van persone in polisieselle, maar die minister het dit nie geantwoord nie,” het Groenewald bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hannes ·

Wonder hoeveel polisie is betrokke en deel in die uitbetalings. Ek neem jou onregmatig in hegtenis en na jou eis kry ek die helfte

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.