‘Ons Hemelse Vader het Richard vir ons geleen’

Richard Drevin het kneusplekke, vergrote hart gehad. Lees meer hier.

Die polisie het intussen gesê Richard Drevin is nie vermoor nie. Lees die berig hier.

Richard Drevin

Drie mans is in hegtenis geneem in verband met die dood van Richard Drevin, wat glo Vrydagaand in Hatfield Square ontvoer is.

Drevin (23) se liggaam is Dinsdag by die Tshwane-distrikshospitaal gevind. ʼn Polisiewoordvoerder, kol. Katlego Mogale, het bevestig dat drie mans gister in verband met Drevin se dood in hegtenis geneem is. Sy sê hulle sal vandag of more in die hof verskyn. Sy wou geen verdere besonderhede bekendmaak nie. Drevin se pa, Gunther, het intussen ʼn emosionele boodskap geplaas op ʼn Facebook-blad wat geskep is na sy seun se verdwyning. “Ons Hemelse Vader het Richard Drevin vir 23 jaar aan ons geleen. Ons was gelukkig dat hy totdat hy vanjaar begin werk het by ons in die huis gebly het. Hy het sy lewe voluit gelewe en het Vrydag nog laat weet hoe opgewonde hy is oor die projekte waarop hy Maandag sou begin werk het. Sy plek in ons huis is nou leeg maar hy sal altyd sy plek in ons harte vol sit.” Drevin sr. het intussen ook bekendgemaak dat sy seun net na 3:00 Saterdagoggend deur ‘n ambulans hospitaal toe geneem is waar hy net na 6:00 oorlede is. Hy is glo op die hoek van Festival- en Pretoriusstraat in Hatfield gekry. Die oorsaak van sy dood sal deur ʼn nadoodse ondersoek bepaal word. Die polisie ondersoek ʼn saak van moord, roof en ontvoering.

Maroela Media het Maandag berig dat Drevin omstreeks twaalfuur Vrydagaand vermis geraak het nadat hy die laaste keer by ʼn kuierplek in Hatfield Square gesien is. Drevin se ma, Lynette, het vroeër gesê dat toe ʼn vriend van haar seun hom op sy selfoon probeer bel het, ʼn vreemde persoon die selfoon geantwoord het. “Hy het vir hulle gesê Richard is siek en dat hy in die badkamer is. Toe hulle daar kom was hy egter nie daar nie en toe hulle weer bel het die persoon gesê Richard is saam met hulle by ʼn ABSA-OTM.” Richard se foon was sedert Saterdagoggend af en is daar glo twee kontantonttrekkings uit sy bankrekening gemaak. Drevin het verlede jaar sy honneursgraad in inligtingtegnologie klaargemaak by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus. Hy het sedert die begin van die jaar in Sunninghill in Johannesburg gewoon waar hy as ʼn konsultant gewerk het by PricewaterhouseCoopers. Drevin laat ook sy 20-jarige sussie en 8-jarige boetie agter. Sy ouers is albei dosente in rekenaarwetenskap op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.