“Ons het hom,” sê Paul Rotherham

Paul en Zina Rotherham

Die man wat Paul Rotherham, ʼn omroeper by Jacaranda FM, se vrou, Zina, glo in Johannesburg geskiet het, is in hegtenis geneem.

Zina is op 27 Junie twee keer in haar voertuig geskiet kort nadat sy ʼn vriend, die omroeper Kieno Kammies, by die Marlboro Gautrein-stasie in Sandton afgelaai het. Die voorval het naby die stasie in Alexandra plaasgevind. Sy is in haar hand en maag geskiet. Sy is vier dae later uit die Sunninghill-hospitaal ontslaan. ʼn Identikit van die man, wat Zina saam die polisie opgestel het, is kort na die voorval versprei.

Polisiespeurders het ʼn week na die voorval ʼn klopjag op ʼn plakkershuis in Alexandra uitgevoer en vier mans in hegtenis geneem. Hulle het inligting ontvang dat die vermeende kaper daar bly.

Zina is vir ʼn uitkenningsparade genooi, waar sy haar aanvaller uitgewys het.

Volgens kaptein Kym Cloete, ʼn polisiewoordvoerder, word die verdagte met ander misdade verbind en moet hy Dinsdag in die Wynberg-landdroshof verskyn.

Paul het Vrydag op sy Facebook-blad geskryf: “ONS HET HOM!” Die paartjie versoek mense om Dinsdag by die hof saam te kom om teen misdaad te betoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.