“Ons sal e-tolhekke sloop” sê Cosatu

Die vakbondfederasie Cosatu het Woensdag gewaarsku dat indien die regering nie die implementering van e-tol gaan staak nie, sal hulle betoog en tolhekke verwoes.

“Ek dink dat as die regering nie luister nie, sal mense geen ander keuse hê as om die tolhekke te sloop nie,” het Dumisani Dakile, provinsiale sekretaris van Cosatu in Gauteng, gesê. Dakile is by ʼn mediakonferensie deur Zwelinzima Vavi, uitvoerende hoof van Cosatu, en Sidumo Dlamini, president van Cosatu, bygestaan.

Volgens Vavi is die betoging wat vir Vrydag in Pretoria en Johannesburg teen e-tol beplan word, slegs ʼn voorsmakie van groter betogings indien dié omstrede projek voortgaan. “Die aksie Vrydag is maar die begin. Op 6 Desember gaan ons nie net ʼn optog hou nie, maar ons gaan die regering wys wat hulle in Maartmaand kan verwag indien die wet goedgekeur word en die implementering van e-tol op ons afgedwing word,” het Vavi bygevoeg.

Hy sê werkers sal die “snelweë beset en dit as ons eie eis”. Vavi sê Gauteng is nog net die eerste provinsie wat e-tol sal kry, aangesien daar glo planne is om e-tol ook in Kaapstad en Durban in te stel. Hy noem die stryd teen e-tol ʼn “stryd tussen lewe en dood” en doen ʼn beroep op Suid-Afrikaners buite Gauteng om ook teen e-tol te betoog. “Ander provinsies kan nie toeskouers wees nie; dit gaan nie oor Gauteng nie. Dit gaan oor Suid-Afrika,” het Vavi gesê.

Vavi voer aan dat e-tol die publiek baie meer kos as net die aanvanklike koste van tussen R70 miljard en R20 miljard om Gauteng se snelweë te verbeter. “Ons is nie bereid om die R20 miljard oor en oor te betaal nie.”

Vavi sê die regering het ʼn gewoonte dat daar meer vir projekte betaal word as wat aanvanklik beraam is, en het die Gautrain en 2010 Wêreldbeker-stadia as voorbeelde gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mike ·

Ek sal graag wil help met die afbreek van die tolhekke ek het ‘n goeie “grinder” waarmee ons die staalkonstruksie kan opsny. Die pers ligte sal mooi vertoon op my bakkie se dak hulle moet maar net laat weet ek sal dit verniet ook nog doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.