Onskuldig aangekeer of “buitensporige getuienis”?

Jaco Pretorius

Die man wat daarvan aangekla word dat hy Jaco Pretorius, direkteur van Coin Security, ná ‘n rooftog in 2009 doodgeskiet het, beweer hy is die slagoffer van ‘n komplot.

Zwakahle Mavundla (29) van Joubertpark in Johannesburg het Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria getuig dat hy daardie dag nie by die Irene Village-winkelsentrum was nie. Hy sê hy het heel onskuldig vir iemand op die brug staan en wag toe hy skielik gedwing is om op sy maag te gaan lê en toe in hegtenis geneem is.

Hy sê bewyse van ooggetuies dat hy deel was van die groep wat ‘n juwelierswarewinkel in die sentrum beroof het en toe skote na Pretorius se voertuig afgevuur het terwyl hulle weggehardloop het, is nie waar nie.

Mavundla sê hy het vir ‘n vriend staan en wag toe hy gesien het hoe drie mans na hom toe aangehardloop kom en hy drie skote gehoor het. Hy het besef dat twee van die persone vuurwapens gehad het en hy het uit vrees weggehardloop om onder die brug weg te kruip.

Mavundla sê hy het onder die brug gestaan toe sekuriteitsbeamptes en verskeie wit persone vuurwapens op hom gerig het en hom aangesê het om op sy maag te lê. “Hulle het gesê ek probeer slim wees. Hulle het my begin aanrand en gesê ek moet my vriende uitwys,” het hy getuig. “Ek het aan hulle verduidelik dat ek eintlik vir iemand wag, maar hulle wou nie na my luister nie en het aangehou om my aan te rand.”

Verskeie staatsgetuies het getuig dat hulle Mavundla van die rooftoneel tot by die brug waar hy vasgetrek is, agtervolg het. Getuies het aan die hof gesê dat Mavundla ‘n vuurwapen op hulle gerig het voordat hy aangekeer is.

Mavundla het die getuenis van drie polisiebeamptes dat hy dadelik na die polisiestasie in Lyttelton geneem is, ontken. Mavundla sê hy is na die parkeerterrein geneem waar hy vir langer as ‘n uur aangerand is en oor sy vriende ondervra is. Hy beweer mense het met hul selfone foto’s van hm geneem terwyl hy by die winkelsentrum was. ‘n Groot groep polisiebeamptes het hom toe glo na ‘n motorhuis geneem waar hulle ‘n vuurwapen vir hom gegee het en hom gesê het om dit te hanteer, en toe ‘n binneband om hom gesit het en hom verder aangerand het en gedwing het om sy vriende aan hulle uit te wys.

Mavundla beweer hy het toe aan sy vriende gedink saam wie hy in die aande snoeker speel en toe aan sy “martelaars” gesê dat hy hulle sou uitwys. Hy is hierna glo na ‘n ander motorhuis in Johannesburg geneem waar ‘n band weer om sy gesig gebind is. Nadat sy vriende in hegtenis geneem is, is hulle almal na ‘n plek geneem waar hulle met ‘n band versmoor is, water oor hulle uitgegooi is, en elektriese skoktoestelle aan hul privaatdele vasgemaak is.

Mavundla sê hy is eers omstreeks 19:00 die aand na die polisiestasie geneem, alhoewel hy reeds in die oggend in hegtenis geneem is.

Mavundla het onskuldig op al 10 aanklagte van moord en roof tot aanranding gepleit. Die Staat het die hof versoek om sy getuienis as buitensporig te verwerp. Die Staat se verweer is dat die getuienis direk Mavundla impliseer en ‘n duidelike beeld skets van wat daardie dag gebeur het.

Regter Jody Kollapen sal Vrydag sy uitspraak lewer. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.