Onthoringde renoster gevind, uitgesit

Argieffoto

Argieffoto

WAARSKUWING: Die foto onderaan die berig kan sensitiewe kykers ontstel.

Die onthoringde renoster wat Vrydag in die Krugerwildtuin deur besoekers gesien is, is gevind en moes weens sy beserings van kant gemaak word.

Reynold Thakhuli, woordvoerder van SANParke, het gesê wildbewaarders het hul soektog na die gewonde dier opgeskerp en hom Dinsdagoggend lewendig, maar in ʼn erge toestand, gevind. “Die dier is in die Phabeni-gedeelte van die park gevind,” het Thakhuli gesê. “Die dier is ondersoek om die omvang van die beserings te bepaal. ʼn Vuurwapenpatroon is in die dier se brein gevind, wat sy kanse vir oorlewing baie skraal gemaak het.”

Volgens Thakhuli het die wildbewaarder in beheer van die soekspan die besluit gemaak om die dier van kant te maak om dit van verdere lyding te spaar.

Thakhuli sê daar is geen manier wat die arme dier sou kon oorleef nie, en dit moes uitgesit word. “Ons bedank die besoekers wat die kwessie onder ons aandag gebring het. Ons bedank ook die wildbewaarders vir die goeie werk wat hulle gedoen het om die dier op te spoor. Ons gaan aanhou poog om renosterstropery in die Krugerwildtuin te beveg. Die verlies van een renoster is een te veel,” het hy bygevoeg.

Maroela Media het vroeër berig die onthoringde renoster is Vrydag naby die Phabeni-hek opgemerk.

Frans Lombaard het die foto Vrydag op sy Facebook-blad gelaai met die woorde: “3km voor Phabeni hek IN Krugerpark, kom vra hy ons vanmiddag om hulp!!! Ek is sprakeloos en woedend!!!!!”

Lees ook:
Onthoringde renoster steeds soek
SANParke bevestig renoster sonder horing

Foto: Frans Lombaard, Facebook

Foto: Frans Lombaard, Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

ludwig schultz ·

Dit is baie jammer van die renoster. Die hele regering is so korrup jy kan met hulle toor

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.