“Ontneem De Klerk se Nobelprys”

Die National Health and Allied Worker’s Union (Nehawu) het vandag versoek dat oudpresident FW de Klerk se Nobelprys teruggetrek word ná die kommentaar wat hy tydens ʼn onlangse CNN onderhoud gemaak het.

Hy het Donderdagaand ʼn oproer veroorsaak na uitlatings wat hy tydens ʼn onderhoud met CNN gemaak het. Maroela Media het berig De Klerk het tydens ʼn onderhoud met Christiane Amanpour by ʼn kongres vir Nobelpryswenners in Chicago sy “geskiedkundige antagonisme”, huidige vriendskap met Nelson Mandela, die mislukte apartheidstelsel en die tekortkominge van die huidige regering bespreek.

In antwoord op die vraag of hy apartheid “moreel afstootlik” vind, het hy gesê: “Sover dit menseregte onderdruk het, is en bly dit moreel onverdedigbaar.” Dit het egter toe geblyk of De Klerk die stelsel wou verdedig: “Maar die konsep van gee, soos die Tsjegge nou doen, en die Slowake dit doen, wat bepaal dat etniese eenheid deur een kultuur met een taal [almal] gelukkig kan maak en hul demokratiese verwagtinge in een staat kan vervul, dít is nie afstootlik nie.”

Hy het ontken dat swart mense in die tuislande benadeel is. “Hulle is nie benadeel nie, hulle kon stem. Hulle is nie in tuislande geplaas nie, geskiedkundig was die tuislande reeds daar. As die ontwikkelde wêreld maar soveel geld in Afrika, wat met armoede sukkel, belê het soos wat ons in die tuislande gedoen het. Hoeveel universiteite is gebou? Hoeveel skole? In daardie stadium was die doel apart maar gelyk, maar ‘apart maar gelyk’ het gefaal.” De Klerk sê hy het later ʼn “bekeerling” teen die stelsel geword.

De Klerk se kommentaar kom ná die ANC die afgelope week met Afrikaner-groepe vergader het. Die nasionale uitvoerende komitee sal volgende week vergader om te besluit of ʼn “koördinerende kantoor” opgerig moet word om die regering meer toeganklik vir minderheidsgroepe te maak. Volgens woordvoerder Jackson Mthembu, spruit dié voorstel uit die Afrikaanse dialoog-vergadering wat Dinsdag gehou is.

“De Klerk ontbloot homself as ʼn onberouvolle voorsteller van ʼn rassistiese en fascistiese regering wat die meerderheid onderdruk het,” het Sizwe Pamla, Nehawu se woordvoerder, Sondag in ʼn verklaring gesê.

“De Klerk is die Nobel-vredesprys toegeken saam ʼn ikoniese reus soos Nelson Mandela, maar hy is onbekwaam om in dieselfde kategorie te val as die wat al dié erkenning gekry het,” het hy gesê.

Die Jong Kommunisteliga het ook op die lawaaiwa geklim en gesê De Klerk kan nie met Mandela vergelyk word nie.

Intussen het die FW de Klerkstigting Vrydag gesê die kommentaar wat De Klerk gemaak het, is onbillik uit konteks gebruik. “Die vrae wat gevra is, het verband gehou met die beleid wat hy destyds as ʼn jong man ondersteun het. Sy antwoord was dus op sy destydse siening gebaseer.” (sien volle verklaring hier)

Hier volg die veelbesproke onderhoud…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.