Ontploffing by JHB-tronk

Ten minste twee mense is Maandag dood na ‘n ontploffing buite die Johannesburg-Sentraal-gevangenis in die suide van Johannesburg.

Brig. Neville Malila, polisiewoordvoerder, het aan Eyewitness News bevestig twee mense het in dié ontploffing omgekom. Malila het aan Sapa bevestig dat daar ‘n ontploffing buite die tronk was, maar kon nie dadelik verdere inligting beskikbaar stel nie. “Die ontploffing het net buite die gevangenis plaasgevind. Ons het pas by die toneel aangekom,” het hy gesê.

Volgens Eyewitness News is 15 mense beseer.

Die ontploffing het glo in ‘n voertuig, wat gevangenes van die Randburg-hof in die noorde van Johannesburg vervoer het, plaasgevind.

Malila het gesê die bestuurder van die voertuig het ‘n harde knal, net buite die gevangenis, gehoor. “Daar was ‘n ontploffing in die voertuig. Twee van die gevangenes het ontsnap, maar hulle is weer in hegtenis geneem,” het Malila bygevoeg.

Die beseerdes is na verskeie hospitale geneem. Malila sê al die ander gevangenes is weer agter tralies.

Die polisie ondersoek die oorsaak van die ontploffing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.