“Ontploffing” van aardbewings

Volgens die jongste wêreldkaart van die Amerikaanse USGS was daar die afgelope week 422 “beduidende” aardbewings. Enkele dae gelede het die voorafgaande week se totaal nog op ‘n baie lae 143 gestaan, waar dit gewoonlik op net meer as 200 staan. Die skerp toename volg na ‘n aardbewing van 7,3 op die Momentmagnitideskaal naby aan die kus van El Salvador.

Die hoë voorkoms kom ten spyte daarvan dat daar die afgelope week geen beduidende aardbewings op verskeie kontinente voorgekom het nie, waaronder Afrika, Antarktika en Australië. Selfs Europa, waar Griekeland en Suid-Italië pas redelik deurgeloop het en aardbewings onlangs selfs in Nederland en Denemarke voorgekom het, was afgesien van ‘n ligte skudding in Sardinië die afgelope week “aardbewingvry.”

Die groot hoeveelhede aardbewings is veral in Kalifornië, ‘n boog suid van Alaska en by Puerto Rico gekonsentreer. Dit gee ‘n effens misleidende aanduiding van aardbewingvoorkomste omdat die USGS aardbewings van M 2,5 en sterker in die omgewing van die VSA op die kaart aanbring, en elders gewoonlik net wat M 4,5 en sterker is.

Die hoë voorkoms in Kalifornië hou egter wel heel moontlik verband met die grote by El Salvador. Navorsers het ongeveer ‘n jaar gelede die resultate van hul ondersoek bekend gemaak dat die San Andreasfout wel reageer op sterk skuddings elders, selfs baie ver. Die skudding by El Salvodor het op ‘n voortsetting van die San Andreasfout plaasgevind.

Die suide van Kalifornië beleef nou ‘n “swerm” van honderde trillings en ligte aardbewings, waarvan die meeste nie sterk genoeg is om op die USGS se kaart aangebring te word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.