Ontstelde motoriste by eerste e-tolvergadering

‘n Besorgde motoris by die vergadering Dinsdagaand in Kemptonpark Foto: Taurai Maduna, EWN

Emosies het Dinsdagaand tydens die eerste openbare vergadering oor e-tol opgevlam en fasiliteerders moes bontstaan om die vrede te bewaar en het gedreig om die vergadering te verdaag.

Die regering hou tans ʼn reeks vergaderings om tariewe en uitsluitings te bespreek voordat dié omstrede projek van stapel gestuur word, berig EWN. Alhoewel die grondwetlike hof die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) toestemming gegee het om reeds die tolhekke te aan te skakel, sal die hofsaak oor die algemene tolstelsel later in November begin.

Vir die eerste keer kan Jan Alleman sy misnoeë in die publiek te kenne gee. Een man het geskree: “Ons kan dit nie bekostig nie, ons word reeds te veel belas!” Een vrou het gesê: “Die hele proses is nie duidelik gekommunikeer nie, ek dink nie hulle het ooit eers aan ons gedink nie.” Nóg ʼn lid uit die gehoor het gesê e-tol sal mense dwing om te staak. Hy bevraagteken of die implementering van die e-tolstelsel die geweld, en moontlik mense se lewens, werd is.

Sommige mense het geweier om te sit en ander het uitgestorm. Een van die fasiliteerders het gedreig om die vergadering te verdaag.

Vrae oor die invloed van gekloonde nommerplate tot jaarlikse verhogings in die e-toltarief is gestel. Die Bondgenootskap teen Stedelike Tol (Outa) het gesê dit is ʼn bewys van die frustrasie wat algemene motoriste beleef. Wayne Duvenage, voorsitter van Outa, het Dinsdagaand se vergadering in Kemptonpark bygewoon. “Motoriste het die geleentheid gebruik om hul siening oor e-tol bekend te maak en hulle het vrae gevra – iets wat die publiek nog nie vantevore kon doen nie,” het Duvenage gesê. Hy was beïndruk deur die vrae wat gevra is.

Inkomste uit die stelsel moet ʼn R20 miljard-skuld aflos wat deur die Gauteng Freeway Improvement Project aangegaan is.

Die volgende e-tolinligtingsessies:
– 14 November (Woensdag): WNNR, Meiring Naudéweg, Brummeria, Pretoria om 18:00
– 15 November (Donderdag): The Focus Rooms, The Core, 1ste vloer suid, hoek van Kikuyu en Leeuwkopstraat, Sunninghill, Sandton om 18:00

Die Staatskoerant is by die staatsdrukkers in Pretoria of elektronies by www.info.gov.za beskikbaar. Gaan na “documents”, dan “notices”, dan “2012” en soek na Sanral-konsepregulasies vir 25 Oktober.
Kommentaar kan ook skriftelik voor 26 November aan mnr. T.H.M. Mphahlele by Posbus X193, Pretoria, 0001 of [email protected] gerig word. Die kontaknommer is 012 309 3481.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.