Groot ontsteltenis heers in België nadat ‘n 14-jarige outistiese seun erg deur ‘n bende van 15 jeugdiges aangerand is.
Die seun het by ‘n bushalte in Gent staan en wag toe hy glo aangerand is. Volgens plaaslike berigte het die busbestuurder glo nie ‘n vinger verroer om die seun te help toe die bus by die bushalte aangekom het nie, en kon die bende ontsnap.
Die seun herstel nou van harsingskudding. Hy is glo erg geslaan en geskop deur die bende wat na bewering sy duur koptelefoon probeer afneem het. Hy is ook vol kneusplekke.
Die voorval wat Woensdag reeds plaasgevind het, het aan die lig gekom toe die seun se ouers die busbestuurder by die busmaatskappy verkla het. Die maatskappy stel nou ondersoek in, terwyl die polisie beeldmateriaal van veiligheidskameras bestudeer. Een van die buspassasiers het die bende se leier herken.