Die polisie in Brittanje het glo 38 “persone van belang” identifiseer in hul soeke na leidrade oor die ontvoering van Madeleine McCann, wat in 2007 by ʼn vakansieoord in Portugal ontvoer is.
Twaalf van die individue is van Engeland, maar die res is glo burgers van verskeie Europese lande, het die metropolisie Donderdag gesê. Volgens USA Today het die polisie ook Donderdag bevestig dat Madeleine moontlik steeds leef.
“Ons ondersoek sal oor die volgende paar maande verdiep, met behulp van die onderskeie lande,” het die polisie in ʼn verklaring gesê. “Ons is spesifiek op soek na meer inligting oor die onderskeie individue en hul moontlike betrokkenheid by die voorval.”
Die saak het nou weer van ʼn hersieningstatus na ʼn volledige ondersoek geskuif.
Madeleine se ouers en die vriende wat die aand saam met hulle gekuier het, is nie deel van die lys van verdagtes nie.
“Dit is ʼn ingewikkelde proses en kwessies soos die vertaling van dokumente het sy eie uitdagings opgelewer,” het die polisie bygevoeg, berig TheGuardian.com. “Tot dusver is sowat 30 500 dokumente tydens die ondersoek versamel.”
McCann was drie jaar oud toe sy in Mei 2007 uit haar ouers, Gerry en Kate McCann, se vakansiehuis in Praia da Luz, Portugal, ontvoer is.
“Ons bly vasbeslote om haar op te spoor en uit te vind wat gebeur het,” het Gerry en Kate op 2 Mei 2013 op die webwerf FindMadeleine.com gesê. Die webwerf spits hom daarop toe om bewusmaking te kweek en fondse in te samel om Madeleine op te spoor.
Een kommentaar