‘Ontvoerde’ polisieman was glo ontspanne voor ongeluk

Dit is al wat van die Audi R8 oorgebly het ná die ongeluk in Oxfordweg Foto: Sebabatso Mosamo, EWN

‘n Polisiebeampte wat in ‘n beweerde hoëspoedjaagtog in Johannesburg gesterf het, het glo rustig met sy elmboog buite die venster gesit enkele oomblikke voor die ongeluk plaasgevind het.

“Konstabel Goodman Lubisi (31), was by die Sandton-polisiestasie gestasioneer,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie in Gauteng, Vrydag gesê. Lubisi is dood toe ‘n motoris glo met sy Audi R8 weggejaag het nadat twee polisiebeamptes na dwelmmiddels in die motor op soek was. Die motoris, Areff Haffejee, is Donderdag in Rivoniaweg in Sandown in die vroeë oggendure afgetrek. Toe hulle op ‘n klein bietjie dagga afkom, het Haffejee glo weggejaag met Lubisi steeds in die motor. Die ander beampte het hulle met die polisievoertuig agternagesit.

“Haffejee het in Oxfordweg in Rosebank beheer verloor oor die Audi en ‘n boom, ‘n muur en ‘n lamppaal getref,” het Dlamini gesê. Haffejee is ook op slag dood.

“Ek glo nie die storie dat die polisiebeampte deur ‘n dwelmhandelaar ontvoer is nie,” het ‘n ooggetuie aan The Star gesê. “Ek het net voor die ongeluk in die polisieman se oë gekyk en hy het baie ontspanne in die passasiersitplek gesit. Sy elmboog was buite die venster, sy sitplek was agteruit gestoot en hy het net kalm daar gesit,” het die man, wat slegs as Sly identifiseer is, gesê.

Volgens Sly het dit nie gelyk of die polisievoertuig die Audi jaag nie. “Die sirene en blou ligte was nie aangeskakel nie.”

Dlamini sê dié bewerings sal deel uitmaak van die polisie-ondersoek.

Klik hier om meer foto’s van die wrak te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.