Ontvoerde SA’ners in Jemen is egpaar van BFN

Pierre Korkie wat in Jemen ontvoer is

Die twee Suid-Afrikaners wat Maandag in Taiz in Jemen ontvoer is, is ʼn egpaar van Bloemfontein.

Pierre en Yolande Korkie en hul twee tienerkinders woon al sowat vier jaar lank in Jemen. Maroela Media het Donderdag in ʼn eksklusiewe onderhoud met Pierre se oom, Hennie Nel, verneem die egpaar en hul twee kinders was op pad na Suid-Afrika om Pierre se pa, wat verlede week Maandag oorlede is, se begrafnis by te woon, toe hulle ontvoer is.

Pierre werk glo as ʼn Engelse onderwyser by Rafah for Development, ʼn nie-regeringsorganisasie in Jemen. Die organisasie spits hom toe op gemeenskapsontwikkeling onder veral jongmense. Die organisasie het op sy Facebook-blad geëis dat die egpaar vrygelaat word.

Volgens Hennie is hulle nie seker of die twee tienerkinders al veilig terug is in Suid-Afrika nie, aangesien hulle nie enige terugvoer ontvang nie. Yolande se ouers woon in Pretoria en die twee tienerkinders sal vermoedelik so gou as moontlik in hul sorg geplaas word totdat Pierre en Yolande vrygelaat is.

Die gesin het ongeveer vier jaar gelede na Jemen verhuis. Pierre, nou in sy 50s, was ‘n onderwyser by Grey College in Bloemfontein voordat hy in die omgewing begin boer het. Vandaar is die gesin na Jemen.

Hennie sê die hele familie is bekommerd en hoop hulle dat onderhandelinge suksesvol sal wees om spoedig ʼn oplossing vir die situasie te vind. Hennie se seun, Eben Nel, het kontak met die adjunk-minister van buitelandse sake, wat onlangs gehelp het om prof. Cyril Karabus se terugkeer uit die VAE na Suid-Afrika te bewerkstellig.

Maroela Media het Woensdag berig diplomate van Suid-Afrika het Woensdag na Jemen vertrek om te help met onderhandelinge vir die Korkie-egpaar se vrylating.

Clayson Monyela, woordvoerder van die departement, het Woensdag gesê ambassadeurs van die aangrensende land, Saoedi-Arabië, is onderweg na Jemen om met die onderhandelingsproses te help. Suid-Afrika se ambassade in Saoedi-Arabië is by Jemen geakkrediteer.

Maroela Media het vroeër berig die paartjie, wat aanvanklik vir toeriste aangesien is, was glo betrokke by die ontwikkeling van die hotel waar hulle ontvoer is en dat die ontvoering glo verband hou met ʼn gronddispuut tussen ʼn plaaslike leier en owerhede. Hennie kan dit egter nie bevestig nie en dra nie enige inligting dat die egpaar by die ontwikkeling van ‘n hotel betrokke was nie.

Pierre se sussie, Leslie Korkie, is vir ‘n week lank in Londen, maar die familie kon glo tot dusver nog nie met haar in verbinding tree nie. Pierre en Leslie se pa sal na verwagting volgende week begrawe word, nadat Pierre versoek het dat sy pa se liggaam gebalsem moet word. Leslie sal na verwagting betyds terug wees in Suid-Afrika vir haar pa se begrafnis.

AFP berig hoewel ontvoerings van uitlanders gereeld in Jemen voorkom, is uitlanders nog nie vantevore in Taiz, wat een van die land se grootste stede is, ontvoer nie.

Honderde mense is in die afgelope 15 jaar in Jemen ontvoer, waarvan die meeste later ongedeerd vrygelaat is. Die meeste ontvoerings word deur stamleiers uitgevoer, wat die ontvoerders gebruik in onderhandelinge om geskille met die plaaslike regering  op te los.

Lees alles oor Pierre Korkie.

Lees ook:
Jemen-ontvoering: Vyf verdagtes in hegtenis geneem
SA-diplomate na Jemen oor ontvoerde paartjie
Ontvoerdes in Jemen wel van SA
Gerugte van ontvoerde SA’ners in Jemen ondersoek
Twee van SA glo in Jemen ontvoer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.