Ontvoerde vrou veilig ná media daaroor berig

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 22-jarige vrou wat Dinsdag in Johannesburg ontvoer is, is vrygelaat en weer veilig by haar huis.

“Die vrou is Dinsdagmiddag by haar huis in Zola, Soweto, afgelaai nadat sewe gewapende mans omstreeks 02:00 daar ingebreek en haar ontvoer het,” het ao. Kay Makhubela, ʼn polisiewoordvoerder, gesê. “Ons glo dat haar ontvoerders geskrik het toe die media oor haar ontvoering berig het, en besluit het om haar na haar huis terug te neem.”

Volgens Makhubela beweer die vrou dat die mans haar verkrag en aangerand het. Sy is na ʼn plaaslike dokter geneem vir mediese behandeling en berading.

“Die vrou se bure het die mans se voertuigregistrasienommer neergeskryf toe hulle haar afgelaai het. Die registrasienommer dui daarop dat die voertuig aan ʼn taxivereniging in die gebied behoort,” sê Makhubela.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, maar die polisie is op die spoor van die verdagtes. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.